Food Lifestyle

Tahlia Gin prikkel jou verbeelding, streel jou siel

Written by Mickey Mentz

Daar is ‘n nuwe reeks gin en vodka wat deur die Burgers op hul plaas Tahlia buite Montagu vervaardig word – en dit smaak eersteklas.

In ‘n streek wat meer beroemd vir sy muskadel en brandewyn is, is Tahlia beslis die doring tussen die rose. En nie net metafories nie. Tahlia se unieke prikkel sit in die feit dat dit van turksvye af kom.

Die turksvy-boerdery se oorsprong kan aan Andries en Alicia Burger se liefde vir die langpad toegeskryf word. Ten spyte van die feit dat hierdie boerdery nog in sy kinderskoene is, het dit reeds die verbeelding van ‘n industrie met ‘n kwaai droogte worstel, vasgevang.

Ja-nee kyk, wanneer die Burgers moeg raak vir die lewe in die stad, gebeur daar opwindende dinge.

Die geleentheid moet net lyk of hy hom voordoen en die egpaar durf die langpad aan – opsoek na ‘n nuwe avontuur.

Hulle is gatskuurders van formaat en geniet niks meer as om so elke nou en dan die mooiste gedeeltes van ons land aan die lyf te voel nie.

Dit was net ‘n kwessie van tyd voor hierdie liefde vir reis sou lei na ‘n permanente skuif  platteland toe.

“Ons wou in die platteland woon en nadat ons op die Weskus gaan loer het, het ons later tot so ver as Oudtshoorn ondersoek ingestel, voor hierdie stuk grond ons harte gesteel het,” vertel Andries.

Maar wat weet ‘n makelaar van Stellenbosch van boerdery af? En waar op dees aarde het hy en sy vrou Alicia aan die idee gekom om turksvye in ‘n omgewing wat so beroemd vir sy vrugte is, bekend te stel?

Dit het naturlik op die langpad gebeur. Die paartjie het ‘n ietwat langer rit (Luderitz na Walvisbaai) aangedurf en by Naute Kristall Distillery in Namibia aangedoen.

Daar het ‘n turksvy apperatief en die dadel brandewyn wat hulle geproe het, hul inspireer om verder oor die plant ondersoek in te stel.

  • Die ryp vrug van die turksvy is veral ryk aan Vitamien A en C (nie ANC nie) en bevat tot 25% van ‘n volwassene se aanbevole daaglikse inname, asook minerale soos kalsium, magnesium en kalium. Die vrugte kan vars geëet word of verwerk word in smoothies, sap, konfyt en natuurlik gin.

n Nuwe gewas vir Montagu

“Toe ons die eerste keer na die plaas kom kyk het, het ons net ‘n gevoel gehad. Ons het geweet dit is ons sin,” verduidelik Andries.

Alicia het vertel hoe hulle elke vierkante meter van die plaas deurgestap het, terwyl die laaste brokkie twyfel verdwyn het toe Andries ‘n ou boorgat ontdek.

“Ek het op ‘n plaas grootgeword en ek weet ’n sinkplaat met ‘n klip op beteken hier is ‘n boorgat en toe ek dit sien, en van nader bekyk, het ek geweet ons het die regte besluit gemaak,” vertel Andries.

Aanvanklik het die Burgers baie planne met die grond gehad. Dit is uitstekend op die R62 gelee vir ‘n restaurant of padstal (wat hulle dalk later mag aanpak), maar soos genoem het sake op die wandelpad vir hulle in plek begin val.

Dit is moeilik om te verduidelik hoe trots jy voel as jy sien hoe ‘n geharde gewas uiteindelik in ‘n lieflike glas gin verander.

Andries Burger

Soos met enige nuwe projek was daar ‘n mate risiko om in ag te neem, maar Alicia meen dat hul in hul geloof sterk bly staan het.

“Ons het al baie gebid op die plaas. Ons weet hier is nie baie water nie en ons moes aan die begin alles met die hand natlei, maar as ek nou terug kyk is ons baie geseënd,” vertel sy.

Hulle het ook die water (besproeiing) en elektrisiteit self aangelê, en vir ons wat gereeld op die R62 ry, het dit die norm geword om Andries in die veld, tussen sy kaktusse te sien.

Vandag kan Andries en Alicia getuig dat die geharde, droogtebestande turksvye uitstekend in die omgewing aard en dat die vrag van 2000 plante wat hulle in 2019 op ‘n plaas buite Bloemfontein aangekoop het, een van die beste besluite was wat hulle nog uit gemaak het.

Andries het die vrag met sy bakkie en ‘n sleepwa teen ‘n slakkepas vervoer – vir die tweede bestelling het hy egter op ‘n beeslorrie besluit.

Gin word ont-gun

Met die hulp van wynmaker Johhny King, het Tahlia Farm sy eerste 35 bottels gin in 2019 geproduseer.

“Ek onthou nog daardie eerste aand soos gister. Ek het middernag bottels volgemaak en met groot opwinding gesit en proe. Daarna het ons die bottels met ‘n oulike vraelys vir vriende gegee wat gin partytjies gehou het, en die terugvoer (dit wat leesbaar was) was uitstekend.”

Die News62 span self het beide die gin en vodka op die proef gestel en ons kan in alle eerlikheid getuig dat dit nie net soos nektar op die tong val nie, maar ook goeie waarde vir geld is.

Tahlia Vodka, News62 Approved

Ons het die gin en vodka met ‘n bekende wynmaker van Calitzdorp by Die Bakhuis gedeel en Michael het dit terdeë geniet.

Tahlia vervaardig tans twee tipes gin – een word van die geharde woestyngroeier se blare gemaak en die ander van die turskvy-vrug self.

Hulle het ook onlangs ‘n boord Chenin Blanc ge-oes en beoog om hul eie wyn te maak, hoewel ‘n kaktuswyn natuurlik ook op die horison wink.

“Vandat ons turksvye hier begin plant het weet ons dat daar ‘n toename in belangstelling – van sover as Ladismith – is. Ons bure by die Guano Caves het onlangs vyf hektaar geplant en dit lyk baie belowend”.

Andries het met groot opwinding oor sy plan vir ‘n proe lokaal op die plaas gesels waar mense ‘n Turksvy ervaring kan hê. Alhoewel Johnny King die plaas se wynmaker is word die ontwikkeling gedoen in samewerking met Kinga Distillery, Montagu. Kinga is bekend vir hul brandewyne. Johnny is tans besig om hulle turksvy-basis wit rum, wat met groot opgewondenheid afgewag word.

Alicia is self opgewonde oor die serum en vogroom wat hulle met die turksvy saad olie wil maak.

  • Turksvypitte is ‘n bron van olie wat meer vitamien E as enige ander olie bevat, wat dit baie gesog maak vir die vervaardiging van skoonheidsprodukte. Turksvypitte bevat 150% meer vitamien E as argan-olie, wat verkry word uit die sade van die arganboom, wat inheems is aan Marokko.
Op die die stoep by Tahlia

“Toe die eerste plante begin blaartjies kry was ons omtrent elke dag daar. En ons het met die plante gesels en vir hulle verduidelik dat hulle mooi moet groei,” skerts Alicia aka Liefie.

Ja, die Burgers het behoorlike planne vir die plaas wat strek van ‘n kunsgallery tot plaas akkommodasie vir stedelinge wat, soos hulle, ook die vars lug buite Montagu wil geniet.

Intussen begin hulle stelselmatig voorberei vir oestyd wat in alle erns aanstaande maand begin.

En daarna is dit weer tyd om reg te maak om hul passie uit te leef.

“Dit is moeilik om te verduidelik hoe trots jy voel as jy sien hoe ‘n geharde gewas uiteindelik in ‘n lieflike glas gin verander,” getuig Andries.

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Karoolus.

Leave a Comment