Lifestyle News Sport

Dis amptelik: Progress is die derby-konings

Written by Mickey Mentz

Die feitlik onstuitbare Progress Suurbraak het op 19 Julie met hul 26-20 oorwinning teen Barrydale Stryders bevestig dat hulle die derby-konings van die Boland Streekuitdaag is.

Wanneer die intensiteit van hierdie wedstryde in ag geneem word, is dit ’n besonderse prestasie dat Delwin Manho se span al ses hul derby-kragmetings gewen het.

Progress het in hul tuis- én wegwedstryde teen Buffaloes, Flying Eagles en Stryders koning gekraai, en só bewys dat hulle selfs onder groot druk steeds resultate kan lewer.

Van hierdie oorwinnings was nie noodwendig die mees aanskoulike vertonings nie, maar aan die einde van die dag is dit die telbord en punteleer wat saak maak.

Die oorwinning teen Stryders is boonop beloon met ’n R4000-bonus as deel van die VM&K/News62 Direkteurs-Derby.

“Dit was tough, soos derby altyd is, en ek wil net dankie sê aan my span en al ons ondersteuners,” het Progress-kaptein Ruan Beukes ná die wedstryd gesê.

“Ek wil ook namens ons klub News62 en VM&K baie, baie dankie sê vir hulle ondersteuning hier by Progress.”

Men of the Match

Babalo Mpiyakhe en Marchallino Jacobs is as die manne van die wedstryd aangewys.

Wat dissipline aanbetref, was Progress nie op hul beste nie. Hier moet die skiedsregter groot krediet kry vir hoe hy die wedstryd hanteer het. Die blaser het sommer vroeg-vroeg sy stempel afgedruk toe hy twee geelkaarte – een vir elke span – uitgedeel het.

Stryders geensins op Graveyard begrawe

Was dit nie vir ’n totale ineenstorting van hul lynstane nie, het Stryders ’n baie beter kans gestaan om die beste span in die liga te klop en die span het ook daarin geslaag om ‘n baie belangrike bonuspunt te kry.

Die Barrydalers was op hierdie kritieke aanvalsplatform uitoorlê en het ook gedurende die kragmeting ’n paar baie sagte drieë afgestaan.

Die beseringspook is beslis teenwoordig in die Stryders-kamp en daarom kan hulle trots wees op hul vertoning teen die top span.

Hulle het met hart en siel verdedig en dit was beslis nodig aangesien Progress se Bomb Squad daarvoor beroemd is dat hulle alles in hul pad verpletter.

’n Hoogtepunt vir die Trossies was die skopskoen van Giovanni Hartnick, wat met puik doelskoppe gehelp het om sy span in die spel te hou.

Progress doen dit vir Jorsie

Buiten die belangrikheid van nóg ’n liga-oorwinning, het die manne van Suurbraak hierdie wedstryd opgedra aan die vermiste Johan Titus, oftewel Jorsie.

Die 47-jarige inwoner van Suurbraak is reeds sedert Donderdag, 19 Julie, vermis, en die gemeenskap – asook die rugbyspan – is in rep en roer om hom te vind.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel soveel so dat ek dit deesdae ook verkoop. My honde se name Obi en Jasper.

Leave a Comment