Food Lifestyle News

Eerste Preserveer-kampioenskappe ’n treffer

Pers Verklaring:

‘n Nuwe era vir plaaslike preserveerprodukte is Woensdag 23 Julie ingelui met die beoordeling van die eerste Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe by Eensgezind buite Durbanville.

Skakel Arno by: 074 947 4986

Met 456 inskrywings van 66 vervaardigers – meer as dubbel soveel as verwag – is dit duidelik dat die tyd ryp is vir nasionale erkenning van gehalte gepreserveerde produkte.

“Hierdie preserveerkampioenskappe is geskep om topgehalte produkte te erken, bewustheid oor preservering te verhoog, bemarkingsgeleenthede vir entrepreneurs te bied en die kuns van voedselbewaring te vier,” sê hoofbeoordelaar Susina Jooste, bekende koskenner en opleidingspesialis.

Die beoordelaarspaneel van 38 kenners tydens die beoordeling van die eerste Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe by Eengezind buite Durbanville. Foto: A Gorman Photography

“Dit is ook ’n platform vir kennisdeling, volhoubaarheid, ekonomiese groei, die verhoging van standaarde en die vermindering van voedselvermorsing.”

Die beoordelaarspaneel van 38 kenners het onder meer bestaan uit bekende sjefs, gesoute kosskrywers, klein- en groothandelspesialiste, kundiges uit die gasvryheidsbedryf, sjefstudente, afgevaardigdes van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland en selfs enkele vervaardigers self. Produkte is deur middel van ’n blinde proeproses beoordeel.

Die kampioenskappe, aangebied deur Agri-Expo, fokus op gepreserveerde vrugte- en groenteprodukte in meer as 100 klasse, van konfyt, marmelade, blatjang en piekels tot pesto’s en ander innoverende skeppings. Slegs produkte wat reeds beskikbaar is aan die publiek by winkels, padstalle, aanlyn of markte is aanvaar.

Preserveerkampioenskappe skyn lig op gehalte, innovasie en erfenis

Jooste sê innovasie is een van die beoordelingskriteria en dat dit bemoedigend is om te sien hoe outentiekheid en kreatiwiteit mekaar ontmoet. “Ek is oortuig daarvan dat hierdie kompetisie ‘n impak op gehalte in die mark gaan hê en dat verbruikersvertroue in preserveerprodukte sal toeeem. Ons sien uit na die reaksie van verbruikers op produkte wat met ons toekennings vir uitsonderlike gehalte op die winkelrakke gaan spog.”

Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo en organiseerder van die kampioenskappe, sê die groot belangstelling toon dat daar ’n duidelike behoefte in die bedryf bestaan vir hierdie soort platform.

“Ons het hierdie kompetisie geskep vir agri-prosesseerders in die vrugte- en groentebedryf. Die groot aantal inskrywings wys dat daar ’n vraag is na industrie-erkenning vir preserveerprodukte – een wat dit sáám met kaas en wyn op die tafel plaas,” sê Milford.

“Ons is dankbaar vir ondersteuning uit die bedryf, met Clemengold en Hollard wat as goue vennote betrokke is,” sê Milford. “Sonder hul ondersteuning sou dié mylpaal nie moontlik gewees het nie.”

By die eerste Suid-Afrikaanse Preserveerkampioenskappe, aangebied deur Agri-Expo, het 38 kenners 456 inskrywings van 66 vervaardigers in meer as 100 klasse beoordeel – van konfyt, marmelade, blatjang en piekels tot pesto’s en ander innoverende skeppings. Foto: A Gorman Photography

Produkte is na afloop van die beoordeling aan welsynsorganisasies geskenk. 

Die toekenningsgeleentheid waar die wenners aangekondig sal word, vind op Dinsdag 19 Augustus by Lanzerac op Stellenbosch plaas. 

Vir meer inligting, besoek www.sapreservechamps.co.za of stuur ’n e-pos aan charlotte@agriexpo.co.za. Volg @AgriExpo1 op Facebook, X, Instagram en LinkedIn en gebruik #AgriExpo en #SAPreserveChamps om saam te gesels.

Barrydale Hand Weavers

Leave a Comment