Lifestyle News

Sonneblomkind: Welkom in die Era van Alles en Niks

Deur Sonneblomkind

Welkom in die Era van Alles en Niks

Ag, welkom, welkom.
Welkom in die era waar jy alles moet wees —
maar hemel help jou as jy moeg lyk.
Waar jy moet presteer,
produseer,
glimlag,
en dan asseblief, moenie huil op Facebook nie —
want dit pas nie by jou “borrelende persoonlikheid” nie.

Hier is ons nou:
slawedrywers van produktiwiteit,
kroniese mense-plesierders met angsversteurings vir persoonlikhede.
Ons slaap met ons selfone onder ons koppe,
droom in hashtags,
en word wakker in vergelykings.
Botox ons laglyne weg, want vet weet niemand mag lyk asof hulle ouer word nie.

Voel jy ook soms soos ’n glitch in hierdie sosiale simulasie?
Waar jy besig is om stadig te verkrummel onder die gewig
van verwagtinge wat nie eers joune is nie?

Ons eet vrees vir ontbyt,
spoel af met kafiëne en ‘kom ons bly positief vibes’.
Ons verpak ons pyn in memes en deel dit op WhatsApp
met ’n lag-emoticon om te wys ons is nog “OK”.

Groot wêreld, klein hart.
Groot woorde, min egtheid.
Ons weet hoe om connected te wees,
maar hemel, wanneer laas het iemand regtig by jou kom sit
sonder om op hul horlosie of foon te kyk met hul onverdeelde aandag?

Ek bedoel —
jy moet suksesvol wees,
maar ook beskeie.
Jy moet fiks wees,
maar nie “te selfbewus” nie.
Jy moet sensitief wees,
maar tog nie te emosioneel nie —
want niemand hou van iemand wat hulle ongemaklik maak met eerlikheid nie.

Ons leef in die tyd van “doen wat jy wil”
totdat jy iets doen wat nie by die massas pas nie —
dan word jy bespreek deur mense wat self ook net probeer oorleef onder die pretensies van belangrikheid.

En jy…
jy sit dalk nou en lees hierdie woorde,
met ’n knop in jou keel en ’n glimlag wat nie meer vanpas is nie.
Want jy weet:
Jy’s moeg.
Nie net liggaamlik nie —
maar sielsmoeg.
Murg-en-been-moeg, want dinge wat jy nie kan deel nie hou jou wakker.
Dis asof jy al so lank sterk moet wees dat jy vergeet het hoe dit voel om net mens te wees.

Wel…
ek sien jou.
Jy wat alles gee en niks terugkry nie.
Jy wat glimlag in groepe en huil in stilte.
Jy wat wonder of jy ooit genoeg gaan wees in ’n wêreld wat nie weet hoe om stil te wees nie.

So, haal asem.
Nie vir die wêreld nie —
maar vir jouself.

Want dalk is die mees rebelse ding wat jy vandag kan doen
nie om te baklei, of te presteer, of te oortuig nie…
maar om te sê:

“Ek’s nie OK nie. En dis genoeg vir nou.”

Barrydale Hand Weavers

Leave a Comment