Sy baklei al vir sowat 14 jaar om te sorg dat Montagu een van die mees gesogde toerisme bestemmings in die provinsie word en as jy die tientalle trofeë in haar kantoor sien, is dit duidelik dat sy besig is om hierdie stryd te wen.
Dit is danksy haar entoesiasme en deursettingsvermoë dat inwoners nooit hoef te wonder wat volgende gaan gebeur nie. Dieselfde redes geld ook vir die toekennings wat onder meer die Kwêla Dorp van die Jaar en KFM Dorp van die Jaar insluit.
“Ons het hierdie jaar nou wel nie die KFM Dorp van die jaar toekenning gekry nie, maar ons het met die beste hotel (Avalon Springs)m beste corner shop (Montagu Local en beste gastehuis (360 Degrees on 62) weggestap,” spog sy.
“Ons is tans Kwêla se dorp van die jaar vir die Wes Kaap – mens kan net na vier jaar inskryf as jy dit gewen het en dit was net mooi vier jaar toe wen Montagu weer.”

Hierdie puik prestasies spreek egter volgens haar, boekdele oor die inwoners wat na ‘n aanvanklike gesukkel, besef het dat samewerking tot hul almal se voordeel strek.
“My eerste groot geveg was om die dorp te kry om met mekaar saam te werk. Die volgende ding was om die dorp te begin bemark as nie net ‘n “one night stand” of “drive-through” nie, en daarna het ek begin kyk wat ons vir toeriste kan bied om hulle langer hier te hou.”
Montagu Ashton Toerisme Vereniging (MATA se wintersyfers was tydens 2022 hoër as in die jare voor Covid (2018/2019)
“Elke twee ouens wat ek kon kry om met mekaar te praat was ‘n fees. Toe ek hier gekom het, het almal hul kaarte baie na aan hul bors gespeel.
“Almal was kompetisie van almal en as jy nou hier rondkyk is niemand meer kompetisie met mekaar nie. Hulle is hier om een groot aanbieding vir die toeris te gee.

Verandering in denkwyse
Aanvanklik het sy en die Montagu Ashton Toerisme Assosiasie span begin om navorsing te doen oor aktiwiteite wat sal sorg dat ‘n lekker nagrus nie die enigste aspek is wat ‘n besoeker van die dorp onthou nie.
Daar is gekyk wat binne ‘n twee-uur rit gedoen kan word en natuurlik is verskeie feeste weer op die been gebring. Een so fees is die Montagu Kruiefees wat onlangs honderde mense na die dorp gelok het.
“Ons is nou op die punt waar Montagu so baie aanbied dat ons eintlik mense verras.”
Die aantal nuuskierige agies wat by haar toerismekantoor by die Montagu Country Hotel instap, bly toeneem en daarmee saam word die dorp al hoe meer gewild onder Kapenaars wat ‘n rustiger leefstyl wil handhaaf.
Net in Augustus, tradisioneel een van die stilste maande van die jaar, het sowat 1800 mense by die kantoor ingestap en wat gebeur dan? “Verkoop, verkoop, verkoop!” meen dié oud-Kapenaar wat uiteindelik met haar boerseun getrou het.
Dit is dan ook vir Mareletta algemeen dat besoekers later inwoners word.
“Ons slagspreuk is ‘Expect the Unexpected’ so die meeste ouens kom by ons kantoor en as ek begin uitpak wat hulle kan doen, verleng hulle hul tyd hier. Dit gebeur baie dat dieselfde mense ‘n maand of wat later weer inloer en my laat weet dat hulle ook nou hier woon.”

Haar passie vir haar dorp is aansteeklik en sover die News62 span kon aflei, gebruik sy geen opkikkers om haar tenk vol te hou nie. Daar was nie eers ‘n Red Bull in sig nie.
Ons het wel ‘n ietwat waaghalsige (of dom) vraag gevra in die hoop om meer duidelikheid rondom die kwessie van haar eindelose energie te probeer kry.
Hoe lyk ‘n normale dag in Mareletta se lewe?
“Jong, ek is vroeg op – so tussen vyf en ses – dan doen ek gou my goed wat ek by die huis moet doen en dan is ek by die kantoor so 08:30. Van daar af aan is dit vergaderings, vergaderings en nog vergaderings.”
Sy verklap toe ook ‘n geheim.
“Gewoonlik het ek ‘n mooi lysie wat ek vir die dag gaan doen, maar ek het nou al slim geraak. Ek het ook ‘n lysie van dit wat ek doen en ook ‘n lysie van wat ek wel gedoen het – net om seker te maak wat aangaan as ek by die huis kom en net drie goed op my te doen lys is doodgetrek.”
Die pad vorentoe?
Vir haar is die vloei op Roete 62 nogsteeds baie belangrik maar sy voel toeriste moet twee of drie stoppe maak en dit is waar Montagu nou is, Montagu het weens Mareletta en haar span se harde werk, ‘n bestemming geword.
Mareletta Mundey se passie vir Montagu het geen einde nie. Sy is die dryfkrag agter die dorp se stygende toerismesyfer en haar doelwit is om te sorg dat Montagu die beskore bestemming wat dit is, bly.
