Reisiger Christopher Venter is dit eens dat Barrydale een van die beste dorpe in die land is om in te woon en hy kan hiervan getuig al het hy nog nie self die plek gesien nie.

Venter en sy geliefde vrou, Tamlyn, het die afgelope naweek hul huweliksherdenking in die Klein Karoo gevier. Dit was vir beide ’n ervaring wat hulle nie gou sal vergeet nie.
Terwyl Tamlyn haar aan die natuurskoon verkyk het, het Christopher vertel hoe die klanke en reuke van die dorp hom aan ’n minder gekompliseerde tyd laat dink het.
Die geskerts van mense by die weeklikse Moreson Mark, die skaterlag van kinders in die strate en selfs die manne wat in die kroeg hul spanne uit volle bors ondersteun het, was vir die man wat op 40-jarige ouderdom sy sig verloor het, iets baie spesiaal.

Wat hom ook beïndruk het, was die toeganklikheid van die Karoo Art Hotel – veral vir sy gidshond, Sam.
“Nie alle instansies van dié gehalte laat honde toe nie en ek moet bieg, die feit dat daar selfs ’n spesiale spyskaart vir Sam was, het ons verbaas.
“Sam is uiteraard die pragtigste sjokoladekleur-hond wat daar is… Wat, sê jy my hond is nie bruin nie? Ek kan dit nie glo nie – of het julle nog nooit van wit sjokolade gehoor nie?” skerts Christopher.
Die paartjie het tydens die besoek onder meer die medisinale kruietuin van Yamu Botanicals besoek en wat is ’n Barrydale-kuier sonder ’n melkskommel by die beroemde Diesel & Crème?
Christopher is ’n bekende inboorling van Hermanus en ten spyte van sy sigverlies het hy reeds twee boeke geskryf. Die een handel oor sy staptoer deur Italië en Frankryk, terwyl die ander, The Blind Scooter Guy, die motorfietstoer beskryf wat hy vanaf Ierland tot in Afrika aangepak het.
Dit was tydens dié toer dat hy ’n infeksie in sy oë opgedoen het.
Terwyl dit vir hom ’n groot aanpassing is om nie meer te kan sien nie, weet Christopher gelukkig presies hoe Tamlyn lyk en hy koester die liefde wat tussen hulle bestaan.
Christopher het ook saam met die hotel-eienaar, Rick Melvill, op sy motorfiets deur die dorp gery en wat hom veral bygeval het, was die vriendelikheid wat hy in die dorp ervaar het.





