Die boeregemeenskap van Barrydale het die afgelope tyd op verskeie maniere ’n aktiewe rol gespeel in die veiligheid en welstand van die dorp en sy inwoners.

Buiten hul onbaatsugtige hulp tydens veldbrande in die omgewing, het hulle nou ook ’n daadwerklike bydrae gelewer tot misdaadbekamping. Die Barrydale Boerevereniging het onlangs ’n hoëwaarde sekuriteitskamera, ter waarde van sowat R10 000, aan die Barrydale Buurtwag geskenk – ’n gebaar wat die samewerking tussen dorp en plaas verder versterk.
Volgens Deon van Tonder, voorsitter van die Barrydale Boerevereniging, is die behoefte aan selfbeskerming op plaasvlak groter as ooit.
“Ons is op plaasvlak genoodsaak om onsself te beveilig met die stand van polisie-sake, nie net in Barrydale nie maar ook op nasionale vlak,” sê Van Tonder. “Deur Agri Wes-Kaap se Agri-Sekuritasfonds het ons ondersteuning gekry om kameras op plase te installeer. Een van die ouer kameras is vervang deur ‘n meer gevorderde model, en ons het besluit om die ou een met die buurtwag te deel.”
Die kamera, wat steeds volledig funksioneel is, sal gebruik word om verdagte aktiwiteit op te spoor en die reaksietyd in noodgevalle te verbeter. “Dit sal natuurlik ons ook help om die soekarea kleiner te maak in geval van ‘n noodgeval,” voeg Van Tonder by.
Bande tussen dorp en plaas versterk
Arthur Brigg, voorsitter van die Barrydale Buurtwag, het die inisiatief verwelkom en sien dit as ‘n kans vir herstel en groei.
“Dit is fantasties dat daar nog ‘n kamera opgerig word. Dit sal beslis die buurtwag ook help om voertuie dop te hou,” aldus Brigg.
Brigg het bygevoeg dat hierdie toestel beslis handig te pas kom om kriminele op te spoor.
Benewens die sekuriteitsvoordele, dra hierdie inisiatief ook by tot vertroue en wedersydse respek. Boere en dorpenaars begin mekaar weer sien as vennote in ’n gedeelde toekoms – een waarin veiligheid, ekonomiese groei en gemeenskapsgees hand aan hand gaan.
“Ons het gesien met die laaste brand asook ‘n moord van so paar jaar gelede dat samewerking van kritiese belang is en hierdie toestel sal hopelik nie net help met die bekamping van misdaad nie, maar ook die voorkoming daarvan,” verduidelik Van Tonder.
“Samerwerking tussen die boeregemeenskap en die inwoners van die dorp is van kardinale belang. Ek dink dat die boere en die plaaslike gemeenskap was vir te lank geïsoleer van mekaar af, en dit is goed om te sien dat bande nou versterk word.”

Lees Ook:





