Community Featured Lifestyle Sport

Cameron droom van Comrades Maraton glorie

Written by Mickey Mentz

Barrydale langafstand-atleet presteer tydens Die Vlakte Half-Maraton

Cameron Esau wil nie net eendag aan die beroemde Comrades Maraton deelneem nie, hierdie 20-jarige atleet van Barrydale het ‘n groter plan.

“Dit is my groot droom om eendag ‘n professionele atleet te word en ek wil die Comrades wen,” vertel hy.

Die jongman het op 23 November aan Die Vlakte Half-Maraton in Heidelberg deelgeneem waar hy ‘n algehele sesdeplek in ‘n tyd van 25.01 behaal het.

Dit was sy eerste half-maraton en die ervaring het een ding aan hom duidelik gemaak en dit is dat hy wel op die regte pad is om sy groot droom ‘n realiteit te maak.

“Ek weet nou ek gaan meer moet oefen, maar hierdie sport is baie belangrik vir my en ek weet as ek aanhou gaan ek nog hoogtes bereik,” verduidelik die man wat ten minste vier dae ‘n week kliphard oefen.

Cameron is vuur en vlam oor dit wat die toekoms vir hom inhou as oud leerder van BF Oosthuizen Primêre Skool besef hy dat hy nie net homself, maar sy hele gemeenskap verteenwoordig.

Van Zola Budd tot Bokskryt en die Barrydale Bark Run

Cameron getuig dat Zola Budd een van sy rolmodelle in die sport is en dat hy goed onthou hoe sy ouma hom as kind oor die wondere wat die vrou verrig het, vertel het.

Sy eerste blootstelling aan draf word egter aan Barrydale Fight Club afrigter Conroy Williams toegeskryf aangesien Williams sy vegters aanmoedig om op die manier fiks te raak.

“Ek was aan die begin baie betrokke by die boksklub en ek het daar ook al sewe medaljes gewen, maar ek het later besef dat ek meer daarvan hou om te draf.”

Hy het daarna by die huidige voorsitter van Barrydale Rolbalklub, Renaldo Claassen, se Drafklub wat deur Alan Hardakar van stapel gestuur is aangesluit, maar nadat Hardakar die dorp verlaat het, het die drafklub tot niet gegaan.

Cameron in in Aksie. Foto: Greg Viljoen

Gelukkig vir Cameron het die Barrydale Bark-Run ontstaan en hy kon gou weer saam met ‘n nuwe groep drawwers die langpad aandurf.

Die Barrydale Barkrun begin elke Saterdagoggend omstreeks 7:30 vanaf die Karoo Art Hotel.

“Dit was wonderlik toe die Bark-Run begin het. Ek het dadelik saam met Lizza en Bridget (organiseerders) begin draf en ek sien daarna uit om elke week deel te neem,” vertel Cameron.

Hy het intussen ook aan drie Swellendam Parkrun’s – wat hy elke keer gewen het – deelgeneem en daarna het Nedbank (George Tak) ingestem om hom deel van hulle drafklub te maak.

‘n Gebed word beantwoord

Om aan ‘n half-marathon deel te neem verg meer as net dissipline en deursettingsvermoë.  

Daar is ook kompetisie en vervoerkostes en natuurlik help dit om ‘n spanmaat te hê wat jou droom ondersteun.

“Mnr Greg Viljoen is ‘n goeie man. Ek het die Here gevra om iemand op my pad te stuur wat my kan help en dit was Greg. Ek waardeer hom met alles wat ek het.”

Met Viljoen en die kranige DJ Price (wie die Comrades Maraton 19 keer voltooi het) wat hom ondersteun het, het hy daarin geslaag om tydens sy eerste groot wedloop nie net homself nie, maar sy gemeenskap trots te maak.

DJ Price saam met Cameron Esau. Foto: Greg Viljoen

Cameron is gevra wat hy dink jongmense van Barrydale kan doen om in sport te presteer en sy antwoord was kort, maar kragtig.

“Moet nie rook, drink of dwelms gebruik nie. Dit gaan dalk beteken dat jy minder vriende het, maar ‘n gesonde leefstyl is meer as goud werd.”

Die News62 span meen Cameron mag maar sy naam verander na Camerun.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my honde se name is Bella, Obi en Jasper.

Leave a Comment