Sowat R11 300 is tydens die eerste News62 Doekgholf uitdaag, ten bate van die liefdadigheidsorganisasie Helpende Handjies in Montagu, ingesamel.

Hierdie fondsinsamelingsprojek wat by Montagu Gholfklub plaasgevind het, is deur die uitvoerende bestuurder van VM&K, Johan van den Berg, van stapel gestuur en hy het ook (in sy doek) daarin geslaag om met 18 punte die toernooi te wen.
“Die regte wenner op die dag was natuurlik Helpende Handjies en ons is bly dat Wilma nou ‘n klein bietjie ekstra het om die honderde kinders in die gemeenskap te kan voer,” vertel Van den Berg of Kiewietkuite soos hy tydens die dag se spel gedoop is.
“Die uitdrukking op die Montagu manne se gesigte toe hulle ons op die negende putjie gewaar het was…priceless.”
Die volgende borge het tot die sukses van die dag bygedra: OK Grocer Barrydale, Cassie Bouers, Oewerlust Estate, Barrydale Gym, Bistro Blues Barrydale, Jaco van Schalkwyk – Interpol, Nadia le Roux, Francois du Rand, Tiaan Joubert, Cindy Potgieter, Piet Steyn, Jan Swart, Lize Du Rand, Charmone van Zyl en Jan Swart.




Agtergrond
Hierdie uitstekende plan om soos mamparras in doekies gholf te speel het ontstaan toe Van den Berg ‘n rugby weddenskap met my (die skrywer) aangegaan het voor ‘n rugby kragmeting tussen Barrydale Stryders en Progress Suurbraak. Van den Berg is moontlik die grootste ondersteuner van Progress terwyl my passie vir rugby in Barrydale alombekend is.
Suurbraak het natuurlik die wedstryd gewen en daar is toe besluit dat indien daar R5000.00 vir Helpende Handjies ingesamel word sal Van den Berg ook doek dra.
News62 wil graag die borge bo bedank wat toegesien het dat ek nie op my eie in ‘n doek sukkel-sukkel agter die klein wit balletjie aan ploeter nie.
Die ondersteuning, veral uit die Barrydale sakegemeenskap, was uitstekend en dien as ‘n bewys dat ons in klein dorpies mekaar kan bystaan wanneer dit vir ‘n goeie doel is.
Volgens Van den Berg bestaan die moontlikheid dat daar binnekort ‘n soortgelyke fondsinsameling in Swellendam gaan plaasvind – en dat daar dalk ‘n bikini of twee betrokke gaan wees.