BARRYDALE – Meer as ’n jaar nadat aangekondig is dat ’n leerlinglisensie- en bestuurslisensie-toetsentrum in Barrydale in werking sou wees, is die fasiliteit steeds gesluit.
Dit ondanks skriftelike versekeringe van die Swellendam Munisipaliteit so dat die sentrum “binnekort operasioneel” sou wees.

Die fasiliteit, geleë by die munisipale kantore in Bainstraat, is reeds in Februarie 2025 voltooi en toegerus met nuwe rekenaartoerusting ter waarde van sowat R80 000, wat tot op hede ongebruik staan en stof vergaar.
In ’n amptelike kommunikasie wat News62 op 4 Julie 2025 ontvang het, het die munisipaliteit bevestig dat die Barrydale-leerling-toetsfasiliteit “binnekort met dienslewering sal begin” en dat slegs een finale vereiste – die integrasie van die sentrum met die provinsiale aanlynstelsel – nog uitstaande was as deel van ’n provinsiale uitrolprogram.
Die munisipaliteit het in dieselfde verklaring erken dat inwoners van Barrydale tans ongerief en finansiële druk ervaar omdat hulle na Swellendam vir leerderlisensiedienste en lisensieherhuwings moet reis.
Daar is verder benadruk dat die opening van die Barrydale-fasiliteit ’n “kritieke stap” sou wees om dienslewering meer toeganklik te maak.
Ten spyte van hierdie versekeringe het geen vordering sedertdien gevolg nie.
Die munisipaliteit het ook belowe dat ’n diensrooster – wat sou aandui op watter dae toetsdienste in Barrydale beskikbaar sou wees – “binnekort gefinaliseer en gepubliseer” sou word om sekerheid en voorspelbaarheid aan inwoners te bied. Tot op datum is geen sodanige rooster bekend gemaak nie.
Vir jongmense in Barrydale en omliggende gebiede, wat die primêre begunstigdes van die fasiliteit sou wees, beteken die voortgesette sluiting dat hulle steeds ten duurste Swellendam toe moet reis om hul leerlinglisensies af te lê.
Dit plaas ’n verdere las op huishoudings, veral in ’n gebied met beperkte openbare vervoer en hoë vervoerkoste.
Hoewel die munisipaliteit sy dank uitgespreek het teenoor die Barrydale-gemeenskap vir hul “geduld en voortgesette betrokkenheid”, neem frustrasie onder inwoners toe namate maande verbygaan sonder enige sigbare vooruitgang.
Vir belastingbetalers bly die kernvraag egter onbeantwoord: Waarom is openbare fondse bestee aan ’n fasiliteit wat as voltooi en gereed verklaar is, maar steeds nie diens lewer nie?
Die antwoord hier behoort nog meer kommer oor die bevoegdheid van top bestuur te te wek
Swellendam Munisipaliteit het verledejaar ‘n wetstoepasser (lawenforecement) beampte op ‘n pepperduur drie-week kurses in die stad gestuur waar hy opleiding om die stelsel te toe te pas verkry het.
Wat egter nie in ag geneem is nie, is dat die beampte nie oor die vereiste kwalifikasies beskik om sonder toesig bestuurder- of leerlinglisensies af te teken nie.
Om sake verder te vererger, is hierdie opleiding goedgekeur terwyl daar reeds ’n ondersoek aan die gang was rakende seksuele teistering van ’n inwoner teen die beampte. Die beampte is nie vir ’n enkele dag geskors nie en het uiteindelik in Desember skuld erken, waarna hy slegs ’n finale geskrewe waarskuwing ontvang het.
Die realiteit is dus dat, bo en behalwe die ongerief en onkoste wat Barrydalers moet verduur, duisende rand van belastingbetalers se geld vermors is.




