Featured News Sport

Progress klop Stryders in klipharde News62 Direkteurs Derby

Written by Mickey Mentz

Iemand dra binnekort ‘n doek op Montagu Gholfbaan

Shampanjerugby was aan die orde van die dag toe die manne van Suurbraak Progress op 26 April ‘n welverdiende 44-35 oorwinning op Die Rasper teen Barrydale Stryders behaal het.

Met die oorwinning het Progress ook die eerste been van die News62 Directors Derby gewen wat onder meer ‘n R4000.00 kontant inspuiting insluit. Stryders het R1000.00 ontvang.

Direkteur in Doeke

Deel van hierdie derby het ook ‘n weddenskap tussen Johan van den Berg en en die uwe behels waar die verloorder tydens hul volgende potjie gholf in ‘n doek sal speel.

Van den Berg het Suurbraak ondersteun en die gevolg is dat ek, Mickey Mentz, tans besig is om ‘n volwasse doek aan te skaf. Dankie vir die een Johan, as ek so na my voorgee kyk behoort ek elke week ‘n doek te dra…

Rugby in goeie gees

Die hoogtepunt van hierdie titaniese stryd tussen ou vyande het egter niks met dit wat tussen die vier lyne gebeur het, te doen nie.

Wat bo al die pragdrië, klipharde duikslae, rolmaalbewegings, skrums, lynstane en die kanniedood-houding van die spelers uitgestaan het, was die gees waarin hierdie wedstryd gespeel is.

Die spelers (en ondersteuners) het mekaar met groot respek hanteer. Daar was nie gevloek en geskel nie. Daar was nie vuilspel of enige afknouery nie. Dit was rugby uit die boonste rakke, en in hierdie verslaggewer se ervaring – die beste wat ek al in Barrydale beleef het.

Die manne van Suurbraak was ook nederig ná die oorwinning en dit spreek boekdele van ‘n span wat ‘n uitstekende kans staan om die liga te wen.

Progress het vroeg in die kragmeting dit duidelik gemaak dat hulle nie oor die Tradouwpas gereis het om koekies in Smitsville te kom bak nie. Nog voor die Trossies behoorlik kon sweet, was die telling 18-3 in die besoekers se guns.

Die blou het gehou, en wat duidelik geraak het, was dat die span beslis ‘n paar bladsye uit ‘n tradisionele Blou Bul-wedstrydplan geleen het.

Die uitstekende fondasie wat deur die Progress-pak voorspelers geskep is, het gesorg dat hul kranige baldraers feitlik elke keer oor die voordeellyn gestorm het – en wanneer daar die kleinste geleentheid was om punte aan te teken, het hulle dit gedoen.

Is dit toevallig dat die Suurbraak-losskakel die voorste puntemaker in die liga is? Beslis nie. Hy het weer 100% met die skopskoen behaal, en News62 het vertroulik verneem dat ‘n deel van sy sukses toegeskryf kan word aan die feit dat hy weekliks op die gholfbaan ‘n kenner raadpleeg om sy ritme te verbeter.

Stryders gaan lê nie

Die Trossies is ‘n 80-minute span en daarom was hulle ondersteuners nie te bekommerd oor die 18-3 agterstand nie. Ná die eerste halfuur van die wedstryd het die groot baldraers van Progress bietjie begin uit stoom uit hardloop.

Die Stryders het ook ‘n paar aanpassings in hul agterlyn gemaak en teen halftyd was die telling slegs 23-18 in die besoekers se guns.

Met momentum aan hul kant het die Trossies bly voort beur – veral met hul voorspelers wat gedryf het asof hul lewens daarvan afhang.

Om vroeg in die wedstryd ‘n 15-punt agterstand uit te wis en dan in die tweede helfte ‘n 10-punt voorsprong (32-23) te geniet, het beslis gewys watse karakter in die beste span in Barrydale heers.

Progress Bomb Squad to the Rescue

Net toe die Stryders dink die monsters wat in die Progress-span amok gemaak het is nou moeg, bring hulle ‘n nuwe stel monsters op om klaar te maak.

Die Suurbraak Bomb Squad was net een te veel vir die Stryders, wat nie dieselfde diepte op hul bank het nie.

Volgens Stryders stigterslid Cassie Husselman was dit ‘n geval van die beste span wat op die dag gewen het.

“Hoewel elke span sy oomblike gehad het, was Suurbraak se diepte voor en die skopskoen van Donovan (Julius) ‘n groot faktor.

“Aan die ein de van die dag het rugby geseëvier en Stryders kan hulself op die skouer klop vir die goeie sportmangees. Almal het in goeie gees die rugby genier en hulle het die verloor gevat soos ‘n man.”

“Die manier waarop alles hanteer was en die dag ‘n sukses was is beslis die een pluspunt wat die Stryders uit hierdie een kon vat.”

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my honde se name is Bella, Obi en Jasper.

Leave a Comment