Die manne is bitter lus vir die wedstryd, maar elkeen van Progress Suurbraak se spelers weet dat dit meer as net ’n bietjie harde werk gaan verg om die naweek teen Athletics van Hermanus die pyp te rook.

Volgens Progress afrigter, Delwin Manho, kan sy span dit nie bekostig om tydens hierdie Super 16-kragmeting in Hermanus selfs die kleinste krummeltjie op die tafel te los nie.
“Ons verdediging sal klinies moet wees, want ons speel teen ’n baie goeie span met ’n uitstekende agterlyn wat jou vir die geringste fout sal straf,” het Manho gesê.
Progress moet hierdie wedstryd met ’n bonuspunt wen om vir die semifinaal te kwalifiseer. Hulle moet dit egter ook doen sonder dat Athletics self ’n bonuspunt inpalm.
Die druk is dus groot op die skouers van Manho en sy manne, maar die breier glo dat sy troepe die wedstryd met die regte temperament sal benader.
“Wat my gerus stel, is dat my manne opstaan in moeilike wedstryde. Hulle sit ook dié week die ekstra ure op die oefenveld in, en ek glo dit sal Saterdag vrugte dra,” het hy bygevoeg.
Manho het bevestig dat hy weens beserings een of twee veranderings aan sy span gaan maak, maar dat hy volle vertroue het in die spelers wat inkom.
“Dit gaan ’n baie interessante wedstryd wees. Ons het ’n plan,” het hy gesê.
Die wedstryd skop om 16:00 af, en ’n skakel vir die live stream sal beskikbaar gestel word.




