SWELLENDAM – Altesaam 100 paar skoene is op 3 Maart deur Fuzion Isuzu Swellendam aan leerders van VRT Pritt Primêr oorhandig.

Hierdie gebaar is met ope arms deur skoolhoof Isaac Langeveldt en sy personeel ontvang en volgens hulle sal dit ’n groot verskil in die lewens van talle minderbevoorregte kinders by die skool maak.
Handelaarshoof Mornè Trollip het gesê dat die maatskappy wat hy verteenwoordig baie trots is om deel te wees van ’n projek wat daadwerklik ’n verskil in die lewens van Swellendam se leerders maak.
Langeveldt het sy dank teenoor die borge uitgespreek.
“Baie, baie dankie aan Isuzu dat hulle ons skool geïdentifiseer het vir hierdie projek. Daar is ’n groot tekort wat kinders ervaar en hierdie skoolskoene is werklikwaar ’n seën. Ons is opreg dankbaar vir die uitreiking, veral in ons 10de bestaansjaar,” het Langeveldt gesê.
“Ons hoop en vertrou dat die band tussen ons skool en julle organisasie behoue sal bly. Baie dankie ook aan die maatskappy wat skole ondersteun. Ons leerders se voete sal danksy julle lekker warm wees in die koue winter.”
In die hoof foto: Conroy Adams (verkoopskonsultant), juf. Marianna Swart, juf. Olivia Arnoldus, Mornè Trollip (handelaarshoof) en Isaac Langeveldt (skoolhoof) was teenwoordig by die oorhandiging.




