
Hierdie is nie net ’n landbouskou nie, dit is ’n vier dae lange ervaring propvol besigheidsgeleenthede, wêreldgehalte implemente uitstallings en vertoners, interaktiewe uitstallings, lewendige demonstrasies, gesinsvermaak, ’n splinternuwe kinderpretarea, markstalletjies, ’n troetelplaas, restaurante en die wyntuin wat sorg vir ’n warm en feestelike atmosfeer.
LANDBOU-HOOGTEPUNTE WAT JY NIE MAG MISLOOP NIE
Die verskeie kleinvee-kampioenskappe sal vanjaar weer besoekers bekoor, maar die groot trekpleister op Saterdag 6 September is die skaapskeerkampioenskap. Kom luister na Tinus du Plessis,
Suid-Afrika se eie skaapskeerkoning en houer van nasionale én internasionale rekords. Op 22 April 2025 het Du Plessis saam met Aidan Copp van Nieu-Seeland ’n wêreldrekord opgestel vir die meeste tweestand 9-uur Merino-lammers geskeer: ’n verstommende 970 lammers in totaal – Aidan 523 en Tienie 447. Tienie se 447 is boonop ook die SA 9-uur Merino-lam solo rekord.

Vanaf Woensdag 3 tot Saterdag 6 September word daar met 8 top vleisbeesrasse geskou vir die gesogte titels van Senior Kampioen Bul, Senior Kampioen Koei, en Opperste Ras Kampioen. Die Romagnola ras sal vir die eerste keer by die Swartlandskou hul opwagting maak. Ander beesrasse sluit in die Herefords, Simmentalers, Rooi Angus, Swart Angus, Santa Gertrudis, Charolais en Sussex.
By die Jeugskou op Woensdag 3 September, neem meer as 250 skoumanne deel aan 16 dissiplines in die Wes-Kaap Kwalifiserende Streekskou. Nuwe items soos Kulinêre Kuns, Fotografie en Suiwelbereiding voeg vars opwinding by.
Swartlandskou het onlangs by die Agri-Expo kongres die toekenning ontvang as Beste Jeugskou-aanbieder, ’n prestasie om op trots te wees.



PERDEKRAG EN TRADISIE
Perdeliefhebbers kan uitsien na die Vlaamperd SA Kampioenskappe en die SA Saalperd Kampioenskap, terwyl die indrukwekkende 8-span wa-perde op Saterdag 6 September weer ’n vertoning lewer wat jaarliks gehore van regoor die land lok en bekoor.
VIR DIE DAMES, KINDERS EN FYNPROEWERS
Die Damesdag op Woensdag 3 September is ’n jaarlikse hoogtepunt met meer as 500 dames wat ’n dag van inspirasie, mode, geselskap en heerlike kos geniet. Boys R Back gaan ons terugneem na die goue era van “boybands” in ‘n opwindende vertoning terwyl Lizz Meiring ons gaan vermaak met haar Die “Real Housewife” solo vertoning.

Kinders sal gaande wees oor die nuwe kinderarea wat vol prettige aktiwiteite en vermaak soos
Bungee trampoline, Paintball, springkastele, trapkarre, en vele meer is.
Vanaf Donderdagaand 4 September sorg gewilde kunstenaars vir topklas musiek vermaak.
Musikante sluit in, Donderdagaand, 4 September, Wynand en Chereé en DJ Louis van Lill,
Vrydagaand, 5 September, New Horizon, Brendan Peyper en DJ Wico, Saterdag, 6 September, Step by Step Dansskool, MG Pro Voices, Chris Rain, Ruan Theron, Irene-Louise Van
Wyk, Tamlyn Wessels, ONS, Chris Steyn, Danny Smoke en DJ Stevie.
’n Opwindende nuwe toevoeging is die Tentedorp, kamp-akkommodasie by die skougronde vir feesgangers en uitstallers.
LANDBOU SE TOEKOMS IN FOKUS
Die gewilde landbou-oggend Vrydag 5 September dra vanjaar die tema: “Boerdery se Toekoms – Ons skei die koring van die kaf.” Sprekers soos Theo Vorster, Prof. Johan Fourie, Tobias Doyer en JP Landman gaan besoekers inspireer en waardevolle insigte oor die toekoms van landbou deel.
ONS OPREGTE DANK
Sonder borge, vennote en donateurs sou ons nie die Swartlandskou vir 91 jaar aan die gang kon hou nie. Ons opregte dank aan elke liewe persoon wat deel is van ons sukses verhaal. Laastens ons GEMEENSKAP, hulle speel ‘n onmisbare rol en is die HART VAN SWARTLANDSKOU.
KOM ERVAAR PLATTELANDSE GASVRYHEID OP SY BESTE
Die Swartlandskou se organiseerders moedig besoekers aan om hul kaartjies betyds aanlyn te koop via TIXSA by https://tickets.tixsa.co.za/event/swartlandskou-moorreesburg
Vir meer inligting besoek ons webtuiste by www.swartlandskou.co.za
Vier saam met die Swartlandskou ’n fees van boeretrots, gesinsvermaak en onvergeetlike herinneringe!
Artikel verskaf deur Swartlandskou media