Featured News

Railton-gemeenskap eis antwoorde ná beweerde verkragtings

Written by Mickey Mentz

Die Swellendam-landdroshof was op 8 Oktober stampvol inwoners wat wou verseker dat die twee verdagtes wat na bewering twee tienerseuns verkrag het, nie op borgtog vrygelaat word nie.

Die saak is tot 15 Oktober uitgestel, en beide mans sal tot dan in aanhouding bly. Wat egter duidelik was, is dat die ouers, familie en vriende van die slagoffers nie sal rus voordat geregtigheid geskied nie.

Die voorval het die gemeenskap diep geruk en terwyl die saak nog lank in die hof gaan voortwoed, het bewerings van ‘n dieper netwerk van seksuele teistering in Railton bekend geraak.

Volgens inwoners wat die hofverrigtinge bygewoon het, bestaan daar glo verskeie sogenaamde “grooming stations” in die gemeenskap. Gesiene sakelui en invloedryke persone sou hierby betrokke wees en daar is hoop dat die volle waarheid binnekort aan die lig sal kom.

Daar is glo ook videos wat die bogenomede stellings bevesitg.

“Terwyl die saak van hierdie seuns onder die kollig is, is dit uiters belangrik dat ons ook veg vir die stil kinders daar buite, dié wat te bang is om oor hul ervarings te praat,” het ‘n bekommerde ouer aan News62 gesê.

Volgens hom is dit geen geheim dat sekere instansies alkohol aan tieners verskaf nie. Tot die seuns besluit het om hul stilte te verbreek, het baie mense glo ‘n blinde oog gedraai vir wat werklik aan die gang was.

“Daar word partytjies gehou en dinge gebeur wat elke ouer se hare behoort te laat regop staan,” het hy bygevoeg.

Inwoners hoop dat die wyer netwerk van kindermishandeling uiteindelik ontbloot sal word en dat daar gevolge sal wees vir almal wat jongmense misbruik.

Intussen is dit bevestig dat die Kinderbeskerming- en Seksuele Oortredingseenheid van die SAPD hul teenwoordigheid in die omgewing opgeskerp het.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel soveel so dat ek dit deesdae ook verkoop. My honde se name Obi en Jasper.

Leave a Comment