Die alewige kopstamp tussen sokker- en krieketspelers en hul ondersteuners in Swellendam is voorlopig opgelos nadat plaaslike besighede, in samewerking met die munisipaliteit, ’n tydelike oplossing vir die gebruik van sportgronde bewerkstellig het.
Onmin tussen die twee sportkodes duur reeds ’n geruime tyd voort omdat die krieketveld ook as sokkerveld gebruik word, en die fasiliteite gereeld deur vandaliste geteiken word.

Aangesien daar nie begroot is vir ’n aparte sokkerveld nie, het Swellendam Munisipaliteit besluit om ’n stuk grond in Railton vir die sokkerklubs beskikbaar te stel. Dit is hier waar die hulp van plaaslike besighede die proses merkbaar vergemaklik het.
TES Engineering het sonder huiwering ingestem om hul grondverskuiwingstoerusting beskikbaar te stel vir die projek.
Die proses is deur die direksie van VM&K en News62 aan die gang gesit, en danksy die vrygewigheid van die munisipaliteit, wat ingestem het om die grond beskikbaar te stel, is daar nou ’n wapenstilstand tussen die sportkodes bewerkstellig.



