Oor ’n maand besluit kiesers van Wyk 6 wie hulle in die Raad van Swellendam Munisipaliteit gaan verteenwoordig en dit wil voorkom asof Matthysen ’n uitstekende kans het.
Die vraag is egter: watter Matthysen?
Dit is die week is bekend gemaak dat broers Julian en Henry aangewys is as die manne wat hul onderskeie partye gaan verteenwoordig.
Julian se besluit om die ANC te verlaat en by die PA aan te sluit is natuurlik die rede waarom die tussenverkiesing op 16 Oktober moet plaasvind.
Sy pos in die ANC, wat onlangs deur president Cyril Ramaphosa aangemoedig is om munisipaliteite net so goed soos die DA te bestuur, is intussen deur sy broer Henry gevul.
’n Mens kan maar net wonder hoe die gesprek om die tafel by die volgende bruilof, Sondagmiddagete, of KFC Bucket meal gaan verloop.
Intussen het die DA bevestig dat Russel Goliath hulle kandidaat gaan wees.






