Toetse het bevestig dat ’n speler wat aan die tweede Nashes Gholf Toernooi deelgeneem het, positief getoets het vir ’n middel wat glo sy konsentrasie verbeter het.

Die Nashes, oftewel Nappie Ashes, is op Swellendam Gholfklub beslis, en soos tradisie nou al wil hê, was dit weer die Barrydale-span onder leiding van Mickey Mentz wat die doek-as ingepalm het.
Die algehele Nashes telling is dus News62 2, VM&K 0.
“Dit is met groot verbasing dat ons kan bevestig dat ’n speler tydens die toernooi ’n middel gebruik het wat sy spel duidelik verbeter het,” het ’n beampte bevestig.
Volgens dié beampte was dit inderdaad Mentz self – ja, die man wat twee voëltjies tydens die nege-putjie-toernooi aangeteken het – wat positief getoets het.

Mentz het een van sy beste rondtes ooit gespeel: hy het skaars ’n skoonveld gemis, sy naderhoue was puik en sy werk op die setperk was klinies – soveel so dat News62 die VM&K-span behoorlik laat spartel het.
“Ek wil net graag my spanmaats, ons hoofborg Barrydale Fight Club, en natuurlik my haarkapper, Arno van Wizzard on Mane, bedank vir die ondersteuning,” het Mentz gesê.
“Dit was ’n groot wen vir Barrydale aangesien ons ook R3 500 vir Barrydale Hospice ingesamel het. En natuurlik moet ons vir Johan van den Berg bedank, wat dit op homself geneem het om doelbewus elke boom op Swellendam Gholfklub te probeer tref.”
“Hy het nie eers gediskrimineer oor die grootte van die boom nie. Hy moes hulle net raakslaan – dit was amper asof daar in elke boom ’n boksnuiter sit wat homself as prokureur voordoen.”

Op die vraag oor die middel wat hom so laat uitblink het, het Mentz sonder skroom erken dat hy reeds vir ’n geruime tyd Release_SCE gebruik.
Hy gebruik glo beide die Release Forte en Advance produkte, wat fokus, konsentrasievlakke en breinfunksie ondersteun.
“Die produk is uitstekend – hoewel dit my geheue verbeter, sukkel ek steeds om te onthou wanneer laas ek ’n drie-putt op die baan gehad het.”
Hierdie natuurlike supplement is uiteraard nie onwettig nie, en is nou amptelik deur die Nashes organiseerders goedgekeur.
“Ag, jy weet mos,” sluit Mentz af, “soos daardie gesegde wat ek iewers langs ’n rugbyveld gehoor het: ‘When the going gets tough, the tough get going’.”
Vir meer inligting oor Release_SCE, lees gerus die artikel in die skakel hieronder.












