Renier Jonker oftewel Icebein is op 2 Februarie met ‘n oorwinning van 21-18 vir die derdekeer as Mans Klubkampioen van Ladismith Rolbalklub bekroon.
Die jong Ladismitter het hierdie titel in 2020 sy eie gemaak, maar moes weens verskeie redes tot 2024 wag om weer sy stempel in die sport af te druk.

Tydens die finaal het hy kragte gemeet met Cassie Husselman wat sowat drie maande gelede by die klub aangesluit het.
Husselman, ‘n bekende bouer van Barrydale, het vroeg in die stryd ‘n klein voorsprong geniet maar kon nie daarin slaag om die laat aanslag van sy gretige opponent af te weer nie.
In ‘n stryd waar daar feitlik geen grasie vir foute was nie, het Icebein sy koel gehou en die een geleentheid waar Husselman veronderstel was om die voortou te neem, het Jonker omgeswaai en in sy eie guns gedraai.

Ladismitters ondersteun met goeie gees
Die klubkampioenskappe het oor twee dae plaasgevind en daar was deurlopend net ‘n uitstekende atmosfeer.
Tydens die eerste dag se spel was daar egter ‘n bul van Barrydale wat langs die baan gebrul het, maar selfs sy luidrugtigheid is (meestal) deur die Ladismitters geniet.
Hy het natuurlik Husselman ondersteun, maar dit was natuurlik sy ondersteuning van ‘n paar yskoue drankies by die kroeg wat sy gees (en volume) laat toeneem het.
Gelukkig het die rampokker sy roes tydens die finaal afgeslaap en sodoende kon sportliefhebbers ‘n uitstekende vertoning deur die klub se twee top spelers geniet.
Die presiesheid waarmee Icebein en Cassie Bou elke kop benader het behoort ook die klub opgewonde te maak oor die liga wat voorlê.
Dit was ‘n meesterklas vertoning deur beide spelers.
Daar is opgemerk dat hierdie klas spel eintlik deur SuperSport uitgesaai moes word.
Gesellige Sondag en koningskos
Die goeie gees wat by die klub heers was een ding, maar dan was die braaivleis wat deur Icebein behartig is, net so goed soos die dag se spel.
Die kampioen van Ladismith kan ook ‘n kampioen braaier wees en soos almal in die dorp reeds weet, oom Lammie se tjoppies is nou maar net ‘n bederf – op enige dag van die week.
News62 wil graag die klub se bestuur vir die geleentheid bedank dat ons ook deel van hierdie ervaring kon wees.
Het jy ‘n lekker storie in Ladismith of wil jy jou produk/besigheid bemark, email ons gerus by editor@news62.co.za