Dr Cornelius Miles het hierdie week amptelik sy praktyk op die perseel van Barrydale Hospice in Van Riebeeckstraat oopgemaak en hoop om ‘n omvattende gesondheidsdiens aan die dorp se inwoners te lewer.
Die 47-jarige mediese dokter wat ook sy graad in filosofie aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat voltooi het, is egter geensins ‘n onbekende figuur in die dorp nie.

Hy was vir die afgelope drie jaar in diens van die staat by Barrydale Kliniek en ken dus die gemeenskap baie goed.
“Ek het so drie keer per week by die kliniek gewerk en so het ek lief geraak vir die dorp en sy mense,” vertel Dr Miles.
“Mense het ‘n manier om onder my vel in te kruip en toe Covid uitgebreek het was ek primêr verantwoordelik vir Barrydale Kliniek en die voorkoming van die uitbraak.”
“Ek het opleiding by al die besighede gedoen en so het ek al die besighede en die mense leer ken en regtigwaar lief geraak vir die dorp en gesien watter behoefte hier is vir goeie mediese sorg op ‘n breë vlak.”
Dr Miles moes ‘n spreekwoordelike ‘leap of faith’ neem toe hy dit oorweeg het om die staatsdiens agter te laat.
Hy het vanuit die staanspoor besef dat dit ‘n reuse projek sou wees om permanent in Barrydale ‘n praktyk te bedryf, aangesien hier geen infrastruktuur in die dorp is nie.
Hy het geld bymekaar geskraap, nuwe toerusting aangekoop en sy praktyk so uitgerus dat hy verskeie behoeftes wat hy reeds vooraf geidentifiseer het kan aanspreek.

“Almal het net ingespring en gehelp. Die hoeveelheid hulp wat ek van die gemeenskap gekry het is regtig waar wonderlik en het net weereens vir my bevestig dat ek die regte ding doen,” het Dr Miles vertel.
“Mense se harte is reg en mense is reg vir my tipe medisyne wat ek praktiseer.”
“Ek glo dat elke mens uniek is en dat ek met my 20-jaar ervaring ‘n diens kan lewer wat sal sorg dat elke pasient, liggaam, siel en gees die hele pakket ontvang”
Pille vir Kersfees!
Wat voorheen ‘n reuse kopseer of selfs ‘n nagmerrie vir inwoners was, is nou een minder oorsaak van slapelose nagte.
Dr Miles bied ‘n selfde-dag medisyne afleweringsdiens vir medisyne wat hy nie by sy praktyk aanhou nie.
“Ons konsultasie sluit basiese medikasie in, hier is ‘n mini-apteek en vir dit wat ons nie hier het nie stuur ek my voorskrif elektronies deur Swellendam Apteek toe. Ons werk saam met hulle sodat ons koerier diens, wat elke dag deur ry die medikasie oplaai en dit by jou huis aflewer sodat jy dieselfde dag nog die medikasie kan ontvang.”

So het Barrydale vir die eerste keer in baie jare toegang tot ‘n omvattende apteekdiens en ook ‘n prosedurekamer waar daardie ingroei toonnaels, steke en ander klein opperasies onder plaaslike verdowing gedoen kan word.
Omdat ons konsultasie medikasie insluit kan ons ongelukkig nie direk van die mediese fonds eis nie want daar is nie so kode vir mediese fondse nie,” verduidelik Dr Miles.
Pasiënte betaal dus ‘n tarief vooruit en dit kan dan later van hul mediese fonds af terug eis.
Hy sal ook meer tegemoedkomend teenoor diegene wees wat nie oor ‘n mediesefond beskik nie.
“Ons weet dit is moeilik vir almal.”
“Geld moet nooit tussen jou en jou gesondheid staan nie. Dan praat ons eerder en ons maak ‘n plan.
“Almal kry swaar, ek is nie hier om van myself ‘n miljoener te probeer maak nie.”
Agtergrond
Dr Miles is in Kaapstad gebore en het daar skool gegaan. In 1993 het hy in die Vrystaat begin studeer en hoewel hy eers die mediese lyn aangepak het, is die eerste graad wat hy behaal het ‘n sielkunde graad wat ook in sy spreek kamer pronk.
Gerdurende die vroee dae van sy loopbaan het hy in die Laeveld gewerk en is toe later Engeland toe waar hy baie ervaring in vrouegesondheid opgedoen het.
Hy het dus ook ‘n goeie vrouegesondheid sorg stelsel in Barrydale tot stand gebring.
Met sy terugkeer tot sy geboorteland het hy in Centurion praktiseer en daarna sy eie praktyk in die Noordelike voorstede van Kaapstad gevestig waar hy vir 7-jaar praktiseer het.

Die gejaagdheid van die stad was egter nie vir hom nie en hy het toe besluit om in bedryfsgesondheid sy kennis toe te pas.
Dr Miles raak toe by die myne in die Noord-Kaap (Uppington omgewing) betrokke en kort voor lank praktiseer hy weer as ‘n algemene praktisyn.
Daarna is hy deur Swellendam Hospitaal ‘n staatspos aangebied en hy versoek toe om by die klinieke te help.
Om ‘n huisdokter te wees was maar nog altyd sy passie en hy is daarom bly dat hy nou in Barrydale weer daardie geleentheid gaan geniet.
Dr Miles sonder sy stetoskoop
Wanneer hy nie besig is om mense se kop en lyf kwale te genees nie, geniet Dr Miles dit om saam met sy lewensmaat Rickus kos te maak.
“Ek is mal daaroor om te kook maar ek moet bieg Rickus is ‘n gekwalifiseerde chef en hy doen deesdae meeste van die kosmaak.”
Dr Miles se ander groot passie is vliegkuns en as hy sy sin kon kry sou daar ‘n helipad reg agter die Hospice geboue opgerig word.
News62 heet hiermee Dr Miles namens die dorp hartlik welkom en ons hoop en vetrou dat jy ons van al ons sorge en pyne sal genees.

Hierdie artikel is met trots deur Ruth Goodman van die Dormehl Property Group geborg. Ruth weet dat elke dorp ‘n huisdokter (en apteek) benodig en dat Dr Miles ‘n uitstekende aanwins tot die gemeenskap sal wees.