Lifestyle Music

Pragmusiek die naweek by die Karoo Saloon

Luna Paige
Written by Mickey Mentz

Luna Paige is op reis na die Klein Karoo

Die diversiteit van musiek wat by die Karoo Saloon aangebied word, spreek boekdele oor die liefde wat die eienaars vir hierdie belangrike doepa het wat ons almal daagliks inneem.

Wat is ‘n lewe sonder musiek? Of dalk eerder, wat is ‘n lewe sonder hartroerende musiek wat sielsbekers weer opvul?

Karoo Saloon Bied Aan:

Hierdie naweek is geen uitsondering by die Karoo Saloon nie aangesien daar hemelse klanke wat dalk meer vir die gesofistikeerde oor bedoel is deur kunstenaars soos Tanya Storm en Luna Paige opgevoer word.

Terwyl Tanya en Luna die Divas van hierdie naweek se verrigtinge verteenwoordig, word hul pragstemme deur die diamante in die vorm van Schalk van der Merwe (baskitaar) en Albert Meintjies aangevul.

Albert en Tanya is alombekend vir hul vermoë om enige skare op sy voete te kry en daarom skop die naweek se verrigtinge vandg (Vrydag) met ‘n vertoning deur die twee af.

Saterdagmiddag is Luna en Schalk aan die beurt, maar nog voor hulle enige musiek maak, is dit Kenny Hughs se verantwoordelikheid om die regte atmosfeer te skep.

Hughs is besig om groot naam vir homself te maak en sal Sondag middag weer die geleentheid gebied word om besoekers oor middagete te trakteer.

Intussen het Luna geensins doekies omgedraai oor haar opgewondenheid om bietjie weer in die Klein Karoo op te tree nie.

“Dit is altyd lekker om bietjie die langpad aan te durf en Barrydale is net eenvoudig so ‘n mooi bestemming,” verduidelik Luna.

Sy sien natuurlik ook daarna uit om saam met Schalk, wie in Karen Zoid se orkes speel, haar liriek gedrewe musiek op te voer.

“Daar is maar altyd ‘n storie agter elke liedjie wat ek sing en hoewel ek nie ‘n ‘tradisionele rock chick’ is nie, lig ons so nou en dan die tempo.”

“Ek het oor die afgelope vyf jaar baie verskillende style of genres deel van my musiek gemaak en maar bietjie verander (of dan evolve) met tyd”.

Luna en Barrydale

Hoewel sy deur die jare ‘n bekende stem by Joubert-Tradauw se lente optredes geword het, het Barrydalers ook hierdie jaar die geleentheid geniet om haar liefde en passie rondom sosio-politiese aspekte van die lewe asook haar lewenservarings in musiek te ervaar.

“Janet en Marius (eienaars van die Karoo Saloon) het my vertoning by MUD bygewoon en toe later ook by die Daisy Jones Bar in Stellenbosch en ja, hier is ek weer terug in Barrydale.”

Inwoners van Barrydale, Swellendam en Montagu is beslis ook opgewonde oor hierdie naweek van Divas en Diamante wat net weer behoort te bevestig dat waar daar musiek is, liefde ook floreer.

LEES OOK:

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my honde se name is Bella en Obi.

Leave a Comment