Barrydale het groot probleme: tik, tienerswangerskappe en fetale alkohol sindroom is tans krisisse wat brandpunt bereik het daarom kan daar nie genoeg klem op die belangrikheid van die werk wat Barrydale ACVV verrig, geplaas word nie.

‘n Groepie vroue doen hul bes om Barrydale se brandpunte te beredder, maar dié geveg is besig om te vinnig, te groot te raak.
Kinders so jonk as 7 word reeds aan dwelms en drank blootgestel en daarmee saam, is daar ook geen einde aan gesinsgeweld nie.
As daar ooit ‘n tyd was om ACVV Barrydale se maatskaplike werker Annaline Zulch te ondersteun, is dit nou.
Zulch is die laaste verdedigingslinie en faktore soos die toenemende brandstrofprys maak dit vir haar al hoe meer uitdagend om by die mense wat haar die nodigste het, uit te kom.

“Sonder die gemeenskap se hulp en ondersteuning kan ons nie hierdie lewensnoodsaaklike diens lewer nie. Vir elke persoon wat ons reeds help, wil ons opreg bedank,” het Zulch tydens die organisasie se algemene jaarvergadering gesê.
“Dankie vir jul ondersteuning Barrydale.”
Op haar beurt het Lichia Hough (admin klerk) die realiteit van hul uitdaging na vore gebring en dit is dat die geveg teen die genoemde sosiale kwale slegs gewen sal word indien daar meer projekte, meer praatjies en meer opleiding aan die gemeenskap gebied word.

Hough meen die geheim is opvoeding en om die projekte in plek te sit, word fondse dringend benodig.
“Dankie vir die gemeenskap wat met ruimhartigheid gee. Dit prentjie is nie ‘n mooi een nie, maar ons is steeds optimisties dat ons ‘n verskil kan maak en is steeds opgewonde om die gemeenskap te dien,” aldus Hough.

Met die nuwe gees wat Elizabeth Beer as bemarkingslid na die organisasie bring, het die ACVV in samewerking met ‘Bikers with a Purpose’ ook daarin geslaag om verskeie projekte met sukses te volooi.
Persone wat belangstel om betrokke te raak, kan die ACVV-kantoor by 028 572 1995 skakel.




