Die tweede been van die Direkteurs Uitdaag tussen News62 en VM&K vind dié naweek in alle erns plaas, met die kragmeting tussen Progress Suurbraak en Barrydale Stryders as die hoogtepunt.

Volgens News62-redakteur Mickey Mentz is daar groot opwinding onder sy troepe, wat die uitdaging met ’n potjie gholf in Swellendam afskop.
“Ons twyfel glad nie daaraan dat ons die gholf-afdeling van die uitdaging gaan wen nie. Die hoop is net dat die Stryders vir ’n slag speel soos ons weet hulle kán,” meen Mentz.
Die gholf-uitdaging sal vandag, 18 Julie, by Swellendam Gholfklub plaasvind, en die wenner sal met trots die Nashes – oftewel Nappy Ashes – huistoe neem.
Hierdie trofee sal ook bepaal of Swellendam Boxing Gym of Barrydale Fight Club as die voorste vegters van die streek gekroon word, aangesien albei klubs hier verteenwoordig is. Die wenner hier se prys is R2000.00 wat vir ‘n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse geskenk sal word.
Saterdag vind die groot derby tussen Progress en die Stryders plaas op The Graveyard. Soos tydens die eerste rondte se kragmeting, sal die wenner R4 000 inpalm, terwyl die verloorders met R1 000 sal moet tevrede wees.
Die algehele verloorders van die Direkteurs-uitdaging sal weer, in die ysige koue, ’n taak of twee in doeke moet aanpak.
Mentz het glo reeds ’n skrywe aan Huggies gerig vir ’n moontlike borgskap van ’n netjiese wit nommertjie vir die geleentheid.
“Om ’n doek te dra terwyl jy gholf speel gee jou beslis ’n voordeel. Jy is minder gepla oor jou spel en meer oor die manne by die klubhuis wat jou spot – wat beteken jy speel net vier (en nie al 18) van die putjies soos jou boude,” spot Mentz.
“Wat die rugby aanbetref, is Progress beslis die gunsteling. Hulle speel puik rugby en verdien hul plek bo-aan die streekuitdaging se punteleer. Maar dan is daar die Trossie Trots-faktor – en ons weet Donovan Julius, daardie gevaarlike losskakel, blaas tans maar warm en koud.”
Julius neem ook aan die gholf-afdeling van die Direkteurs-uitdaging deel, maar weens ’n besering was hy al so lanklaas op die gholfbaan dat hy dalk al vergeet het hoe die sport met die klein wit balletjie werk.
Lees ook: