Swellendam Burgemeester Francois du Rand sal heel moontlik op Vrydag 7 Maart vir die eerste keer in sy lewe ‘n Stormer trui or sy kop trek nadat hy ‘n weddenskap verloor het.
Dit is nou tensy die ware Bulls ondersteuners hom red.
Volgens hoof organiseerder van hierdie aangeleentheid, Johan van den Berg, het Du Rand ‘n weddenskap met kunstenaar Donovan Julius aangegaan met betrekking tot die afgelope naweek se kragmeting tussen die Vodacom Bulls en DHL Stormers op Loftus Versfeld.

Tot Du Rand se groot verbaas het die Stormers die knoop deurgehaak en daarom kon Julius sy uitrusting vir ‘n rondte gholf wat Vrydag by Montagu Gholklub plaasvind kies.
Julius se eerste gedagte was om vir Du Rand ‘n pikante EFF pakkie aan te skaf, maar hy het later besef dat die Burgemeester se bloed aansienlik meer blou is as wat meeste mense ooit sal besef.
Du Rand was uiteraard op universiteit die kamermaat van die legendariese Bul en Springbok Victor Matfield.

Bulls President doen beroep om Du Rand te “red”
Blou Bulle Rugby Unie president Willem Strauss het ‘n beroep op alle Bulls ondersteuners gedoen om die Swellendam burgemeester te red.
“Ek wil hiermee ‘n beroep doen op al ons Vodacom Bulls ondersteuners in die groter Swellendam omgewing om die Burgemeester Francois du Rand te help,” het Strauss gesê.
“Die man het ‘n weddenskap verloor en moet nou eerskomende Vrydag in ‘n Stormer trui gaan gholf speel en dit wil ons tog nie sien nie.”

Bull maak ‘n verskil?
Volgens Van den Berg sal Du Rand slegs die Stormerstrui kan vryspring indien die Bulle R20 000 vir liefdadigheid insamel.
“Ek is ‘n Stormers ondersteuner en ek sal beslis ‘n lewensgrote foto van Du Rand laat druk wat ons by die skougronde sal vertoon.”
“Ons het besluit om die Bulls die geleentheid te gee om hulle man te red en indien daar hulle daarin slaag om voor Vrydag oggend 09:00 sowat R20 000 vir ons gemeenskapsprojekte in te samel, sal ons hom genadig wees.”
Van den Berg, uitvoerende direkteur van VM&K is by talle van die projekte betrokke en hierdie fondse sal beslis ‘n groot verskil maak.
Bulls (of enige rugby ondersteuners) kan die volgende besonderhede gebruik om ‘n donasie te maak.
Gebruik die verwysing: BLOUBLOED
