Community Featured

Pitties leer die ware waarde van kuns

Written by Mickey Mentz

Suurbraak kunstenaar Donovan Julius inspireer ‘n nuwe generasie

Beroemde kunstenaar Pablo Picasso het daarop klem gelê dat elke kind ’n kunstenaar is, maar dat dit ‘n uitdaging is om ‘n kunsternaar te bly as jy groot is.

Danksy Donovan Julius het die leerders van VRT Prit Primêr op 2 Maart die geleentheid gehad om te sien dat daar ‘n toekoms in kuns is.

Vir kinders wat in agtergeblewe omstandighede grootword, is dit ‘n lewenslyn, ‘n stem, en ‘n pad na ‘n beter toekoms.

Pitties se kunsklub, onderleiding van juffrou Olivia Arnoldus vind elke Maandag na skool plaas, maar die week was dit hul voorreg om by ‘n man wat sy kuns inspan om ‘n verskil in sy gemeenskap te maak, te leer.

Daar is meer tot kuns as net inkleur of prentjies teken

Volgens Julius, ‘n man wat alombekend is vir sy pragwerke wat ooral in die Swellendam omgewing pronk, is kuns meer as net verf op ‘n doek of potloodstrepe op papier.

“Vir kinders wat in agtergeblewe omstandighede grootword, is dit ‘n lewenslyn, ‘n stem, en ‘n pad na ‘n beter toekoms.”

Julius meen dat kuns kuns ‘n kragtige rol kan speel om hoop te gee, talente te ontsluit en lewens te verander – veral in gemeenskappe waar hulpbronne skaars en uitdagings groot is.

“Een van die grootste geskenke wat kuns aan kinders bied, is die vermoë om hul gevoelens uit te druk. Baie van hierdie kinders dra swaar laste – armoede, onsekerheid, of selfs trauma,” verduidelik Julius.

Kuns skep ‘n plek van veiligheid

‘n Alternatiewe uitlaat tot emosies wat dikwels onderdruk word kan ‘n merkwaardige verskil in ‘n kind se lewe maak.

Julius het verduidelik dat woorde is nie altyd genoeg om emosies te verwerk nie, maar dat kuns ‘n platform word waar kinders self hulle stories kan vertel.

Donovan Julius in aksie. Foto: Facebook

Kuns word kan volgens Julius ingespan word om ‘n veilige ruimte te skep waar kinders kan huil, lag, of droom sonder oordeel.

Ek het al gesien hoe ‘n kind wat stil en teruggetrokke is, skielik oopblom wanneer hy ‘n kwashand vashou – dit is asof kuns ‘n deur oopsluit na hul binneste wêreld.

Hy lê ook klem daarop dat kuns meer doen as om emosies te kanaliseer; dit skep ook geleenthede vir ‘n beter lewe.

“Deur kreatiwiteit te ontwikkel, bou kinders selfvertroue en vaardighede wat hulle later in die lewe kan gebruik. Dit kan lei tot wonderlike moontlikhede – dalk word een van hulle ‘n kunstenaar, ‘n ontwerper, of selfs ‘n entrepreneur wat hul talente gebruik om ‘n besigheid te begin.”

“Kuns leer hulle om buite die boks te dink en om oplossings te vind vir probleme, wat veral waardevol is in omstandighede waar die lewe nie altyd maklik is nie.”

Donovan se trots en gebed

“Ek is ongelooflik trots om deel te wees van die Pitties Kuns Klub, waar ons hierdie visie vir ons kinders waar maak. Om te sien hoe hulle hulself uitdruk en groei deur kuns, vul my hart met blydskap.”

Julius het ‘n beroep gedoen aan sy gemeenskap, of enige persoon wat kan help, om by die kunsklasse betrokke te raak.

“Ons kort nog baie kunstmateriaal – verf, kwaste, papier, en meer – om die klub ‘n ware sukses te maak.”

“Ons wil die Pitties Kuns Klub ‘n veilige hawe maak, ‘n plek waar ons kinders kan ontsnap uit die uitdagings van hul daaglikse lewe en kan fokus op iets moois en positiefs.”

Julius het ook verduidelik dat daar in plan in plek is om middagete aan die toekomstige kunstenaars te voorsien sodat hulle met vol mae kan skep en leer.

Enige hulp in hierdie verband – kos, materiaal, of finansiële bydraes – sal ‘n groot verskil maak.

Persone wat by die projek betrokke wil raak kan vir Julius by 061 834 6189 skakel.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel soveel so dat ek dit deesdae ook verkoop. My honde se name Obi en Jasper.

Leave a Comment