Lifestyle News

Luna Paige stel Die Reisigers bekend

Luna Page

‘n nuwe album, landswye toer en
meesleurende viering van musiek, kuns en die reis na binne.

Suid-Afrikaanse sanger-liedjieskrywer Luna Paige keer hierdie September terug met Die Reisigers – ’n roerende nuwe album wat geïnspireer is deur haar ervaring van die Spaanse Camino.

Die bekendstelling gaan gepaard met ’n landswye toer van twee maande wat gehore uitnooi na ’n onvergeetlike aand van musiek, stories en beeldende kuns.

Na ’n reeks feesoptredes en ’n groeiende internasionale profiel, maak Luna Paige gereed om Die Reisigers op 4 September 2026 bekend te stel. Meer as bloot ’n nuwe album, is Die Reisigers ’n meesleurende artistieke ervaring wat gehore uitdaag om stil te staan by die reise wat ons vorm, die plekke wat ons verander, en die wordingsproses wat ons as mense daarmee saam ervaar.

Die verhoogproduksie het reeds gehore regoor Suid-Afrika aangegryp en is benoem vir Beste Musiekproduksie tydens die Aardklop Nasionale Kunstefees (2025). Dit is ook aangebied by Woordfees (2025), KKNK (2026), Suidoosterfees (2026) en
Kalfiefees (2026).

Internasionaal het die produksie nuwe lewe gekry deur Luna se produksie, Droomland, wat Europese gehore bekendgestel het aan haar unieke kombinasie van intieme storievertelling en emosioneel-aangrypende liedjies.

Plaaslik groei Luna se musikale momentum steeds. Haar onlangse enkelsnitte, Rustyd & Herhaal (2025), Die Oral (2026) en Die Lyf (2026), is met entoesiasme deur radio- en televisiegehore ontvang.

Die musiekvideo’s vir beide Die Oral en Die Lyf is ook vir rotasie op kykNET se musiekkanaal gekeur, wat haar reputasie as een van Suid-Afrika se besonderse kontemporêre sanger liedjieskrywers verder bevestig. Met die vrystelling van die album op 4 September 2026 vertrek Luna op ’n landswye toer van twee maande wat die Wes-Kaap, Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng en
KwaZulu-Natal aandoen.

Dit bied gehore regoor die land die geleentheid om Die Reisigers in sy mees volledige vorm te beleef.

’n Reis vertel deur musiek, stories en kuns

Geïnspireer deur Luna se reise deur Suid-Afrika en Suid-Europa – veral haar pelgrimstog op die Camino – ondersoek Die Reisigers temas soos beweging, geborgenheid, verlies, innerlike stilte, selfliefde en -aanvaarding.

Hoewel die produksie diep gewortel is in haar persoonlike ervarings, spreek dit tot iets wat ons almal deel: die voortdurende soeke na betekenis, verbondenheid en tuiskoms.

Met haar kenmerkende eerlikheid en warmte besin Luna nie net oor die plekke wat sy besoek het nie, maar ook oor die mense wat sy langs die pad ontmoet het. Só ontdek sy telkens die merkwaardige ooreenkomste wat reisigers oor kulture en kontinente heen met mekaar deel.

Vir die eerste keer in haar loopbaan verweef Luna elektroniese komposisies in haar ateljee-opnames én verhoogvertonings, wat nuwe klanklandskappe toevoeg tot haar reeds unieke musikale aanslag. Sy word op die verhoog vergesel deur die veelbekroonde musikante Mauritz Lotz en André Scheepers, wie se filmiese kitaar- , klavier- en elektroniese toevoegings die produksie met besondere atmosfeer en emosionele diepte verryk.

Met klavier en akoestiese kitaar as haar metgeselle verweef Luna moeiteloos liedjies, stories, humor en eerlike selfrefleksie tot ’n vertoning wat ewe intiem as inspirerend is.

Waar musiek en beeldende kuns ontmoet

Die bekendstelling van Die Reisigers strek veel verder as musiek alleen en sluit ’n eksklusiewe samewerking met die bekroonde Suid-Afrikaanse beeldende kunstenaar Theo Paul Vorster in. Sy oorspronklike kunswerke vorm ’n integrale deel van Luna se pragtig saamgestelde albumboek en is ook op ’n reeks beperkte handelsware, waaronder T- hemde en versamelstukke, aangebring.

Versamelaars sal boonop die seldsame geleentheid hê om beperkte uitgawes (1 uit 10) van Theo se linosnee-afdrukke aan te koop. Hierdie werke sal reeds voor die toer, sowel as by elke vertoning, beskikbaar wees. Saam skep die musiek en beeldende kuns ’n veelvlakkige artistieke ervaring wat kreatiwiteit in al sy vorme vier.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel soveel so dat ek dit deesdae ook verkoop. My honde se name Obi en Jasper.

Leave a Comment