Die rit vanaf Plathuis na Barrydale was een wat min mense so goed geken het soos Henriette Oosthuizen. Vir 42 jaar het sy feitlik elke Sondag die sowat 52 kilometer afgelê om haar God en gemeente as orrelis van die Barrydale NG Gemeente te dien.

Op 25 Januarie het sy vir die laaste keer agter haar geliefde instrument by die gemeente ingeskuif en só ’n merkwaardige hoofstuk afgesluit.
Rofweg geskat het Oosthuizen oor die jare meer as 250 000 kilometer afgelê. In dié tyd het sy met nie minder nie as 14 predikante saamgewerk en ’n blywende indruk op generasies gemeentelede gemaak deur haar musiek, dissipline en toewyding.
“Die rit dorp toe was vir my altyd ’n voorreg en ’n eer,” het Oosthuizen gesê. “Ek het vroegoggend gery en die tyd op die pad gebruik om myself geestelik in te stel.”
Sy het erken dat die rustigheid van daardie ritte nie altyd bestaan het nie. In vroeër jare, toe haar drie kinders nog jonk was, was dit dikwels ’n gejaag. Tog is selfs daardie herinneringe vir haar kosbaar.
Oosthuizen het haar laaste diens gespeel kort voor haar verhuising na Worcester. Hoewel sy vrede gemaak het met die besluit, het sy erken dat sy haar gemeente en die mense met wie sy oor dekades ’n pad gestap het, sou mis.

’n Lewe gevorm deur musiek en roeping
As dogter van ’n predikant het Oosthuizen in Franschhoek grootgeword en later musiek in Stellenbosch studeer. Haar loopbaan het haar daarna na Riviersonderend geneem, waar sy musiek onderrig het en as orrelis by die gemeente betrokke was.
Na haar huwelik het sy na Ladismith verhuis, waar haar onderwysloopbaan vir ’n tyd lank onderbreek is. Met haar terugkeer het kurrikulumveranderings egter beteken dat musiek as vak in kleiner dorpe begin verdwyn het.
“Ons het nie meer sang as vak gehad nie,” het sy verduidelik. “Die skoolhoof het my toe gevra of ek nie belangstel in ’n pos by die koshuis nie.”
Sy het uiteindelik 17 jaar lank as matrone gedien. “Dit was ’n ander soort werk, maar ek het dit baie geniet. Ek is lief vir kinders,” het sy gesê.
Koorsang as hartklop van die gemeente
Koorsang het deur die jare ’n sentrale rol in Oosthuizen se bediening gespeel. Sy het daarop gewys dat daar min plattelandse dorpe is wat vandag nog ’n aktiewe kerkkoor het.
Barrydale se koor het gereeld by ander gemeentes opgetree, onder meer in Stilbaai, Riversdale en Heidelberg. Koorfeeste is dikwels afgesluit met massakore van vier of vyf dorpe.
Een van haar grootste prestasies was die herlewing van die kerkkoor nadat dit vir ’n tyd lank doodgeloop het. Sy het onthou hoe daar tydens ’n gesamentlike uitvoering met Ladismith byna 60 sangers was. “Hulle kon skaars in die kerk inkom,” het sy gesê.
Ten spyte van wisselende getalle het die entoesiasme gebly. Vanjaar was daar 28 sangers in die Kersfeesprogram. In die afgelope ses jaar het ook jong boere begin saam sing, iets wat vir haar besonder betekenisvol was.
’n Mens van stille diepte
Volgens Jacques Theron was Oosthuizen veel meer as net ’n orrelis. “Henriette is ’n besondere mens,” het hy gesê. “Sy het ’n manier gehad om sonder geraas ’n diep invloed op mense uit te oefen. Haar toewyding was eg en haar diens altyd nederig.”
Dominee Carel Smith het haar beskryf as ’n instelling in die gemeente. “Sy is ’n legende en het oor die jare ’n groot invloed op die gemeente gehad,” het hy gesê. “Sy was ongelooflik passievol oor haar kore. Ek was verstom oor die moeite wat sy gedoen het.”
Volgens Smith was haar musikale oor besonder fyn ingestel en het sy die vermoë gehad om selfs hardwerkende jong boere te oorreed om deel te neem aan koorsang. “Haar benadering was eenvoudig: as jy kan, dan kan jy. Ons gaan haar beslis baie mis.”
’n Blywende nalatenskap
Oosthuizen se noukeurig bygehoue kalender vertel die storie van ’n lewe gevul met oefeninge, uitvoerings, Paasvoorstellings en volledige passiespele. Onder die hoogtepunte was ’n gesamentlike opvoering saam met Ladismith se koor in die historiese Otto Hager-kerk, ’n ervaring wat sy as besonder betekenisvol beskryf het.
Na meer as vier dekades waarin note en geloof elke Sondag in Barrydale saamgeklank het, het ’n stil, maar diep invloedryke era tot ’n einde gekom. Die nalatenskap van Henriette Oosthuizen sal egter nog lank voortleef in die klanke, stemme en herinneringe van die gemeente wat sy so getrou gedien het.




