Community Featured News

Ranger & Sons Barrydale Wen Potjiekos Kroon

Written by Mickey Mentz

Dieresorg Barrydale baat terwyl gemeenskap trommeldik smul.

Wanneer Barrydalers vir ’n goeie doel saamstaan is daar geen einde aan wat die gemeenskap vir dié wat hulp nodig het kan beteken nie.

Dit was presies die geval tydens die jaarlikse Dung Beetle Potjiekoskompetisie wat op 27 September deur die formidabele span van Ranger & Sons Butcher and Deli gewen is.

Hoewel Junior van der Linde en sy troepe meer bekend is vir hul geelvetbiltong, was dit ’n watertand hoenderkerriepot wat hulle voorberei het, wat die beoordelaars, Elzie Fourie en Alex de Villiers, se finale goedkeuring weggedra het.

Elzie en Alex

Die kompetisie word elke jaar as fondsinsameling vir ’n liefdadigheidsorganisasie gebruik en die jaar was dit Dieresorg Barrydale se beurt om van die goeie gebaar te baat.

Die Ranger, Wife & Sons Span

Dung Beetle eienaar Janine van der Riet Neethling het met groot lof van Denel Honeyball gepraat en genoem dat sy en haar span vrywilligers ’n reuseverskil maak in die lewens van diere in die gemeenskap.

Denel Dieresorg

Honeyball en haar span diereversorgers maak dit ’n punt dat verwaarloosde diere gedip, gesteriliseer en versorg word – en dit alles sonder enige vergoeding.

“Dieresorg Barrydale gebruik jong mense uit die gemeenskap om hierdie belangrike take te verrig, en ons wil graag almal bedank wat ons ondersteun,” het Honeyball verduidelik.

Sorgvry-kaaskoek sorg vir groot insameling

Sorgvry House of Guests een van hul beroemde egte kaaskoeke vir die dag geborg en dit het vir groot opwinding gesorg.

Die koek is uiteindelik vir R2 000 opgeveil wat verstaanbaar is aangesien Uwe se kaaskoek beter smaak as die beste wat in moderne Nederland gebak word.

Mel en haar kaaskoek

Melani Fivas, hoofsjef by Bistro Blues Pub and Grill, was bewus van die waarde van die koek maar dit was haar passie en liefde vir diere (en vir Honeyball se werk) wat gesorg het dat die kaaskoek vandag in haar yskas pryk.

Oudergewoonte het Braaiboikie sy bes probeer om die kroon te wen, maar ons weet mos nou al dat spitbraai sy forte is.

Die Mac’s Swellendam-manne het tydens die kompetisie gewys hoekom dit belangrik is om voor ’n groot rugbytoets ’n Springbokpot te bou – en volgens betroubare bronne was dit ’n Feinberg-Mngomezulu-resep wat hulle gebruik het. Toppie was teenwoordig, maar nie betrokke nie.

Die Karoo Daisy se Durban Curry Bitcoin Pot was ook ’n treffer, terwyl die Grootberg Camping span se uitrusting die kersie op die koek was.

Liewe Heksie en Koning Jagerkrans Rosssouw se teenwoordigheid sal die dorp nie gou vergeet nie.

André Auctions nou ’n Barrydale-ding

Kyk, as jy weet hoe, dan weet jy hoe en ná amper ’n dekade se soek het Barrydale nou sy eie amptelike man vir veilings gekry.

André Auctions het ’n meesterlike taak verrig om die beste prys vir die Sorgvry-kaaskoek te kry. Sy entoesiasme, sy passie, sy vernuf – dié man mag dalk net NAMPO Barrydale van die grond af kry. Of ons kan ten minste hoop.

Die tafels was gedek met die heerlikste disse, maar die mooiste van alles was dat die dorp se kuiergemeenskap vir een middag hulle nonsens opsy kon sit, saam kon kuier en saam kon sorg dat elke brakkie ’n been kry.

Wel gedaan, Janine, Manus en die Dung Beetle-span. Só bou ’n mens ’n goeie vibe.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel soveel so dat ek dit deesdae ook verkoop. My honde se name Obi en Jasper.

Leave a Comment