Lifestyle News Sport

Progress hervat oorwinningstoer teen Eagles

Written by Mickey Mentz

Die blou masjien beur voor in Streekuitdaag

Progress Suurbraak het danksy ‘n uitstekende vertoning teen Barrydale Flying Eagles gesorg dat hulle na die wenpad terugkeer.


Die 40-18 sege teen ‘n span wat vanjaar hul 75ste bestaansjaar vier, was grootliks te danke aan die uitstekende werk wat hul pak voorspelers op die dag verrig het.

Die stut Franklin James het veral ‘n barshou gespeel en is ook ná die wedstryd as die VM & K Speler van die Wedstryd aangewys.

“Dit is ‘n eer om nog rugby te kan speel. Daar is baie ouens wat dit begeer, maar om só ‘n spel van die game af te kry… dit was hard,” het James verduidelik.

Man van die oomblik. Franklin James. Foto: Nix Pix


“Dit is altyd lekker hierso. Derbies is maar moeilik en ek wil net sê aan Eagles: sterkte vir die seisoen verder. Julle het goeie karakter gewys – julle het gekom vir ons.”


Progress het voor die kragmeting teen Rooiberg nie gebuig nie, en daardie nederlaag het die einde aan hul 21-wedstryd wenreeks gebring.

Dit is baie moontlik dat die uitslag teen Rooiberg dalk net die regte medisyne vir die span was.

Rassie Light: Borg raak betrokke

Eagles wys karakter ondanks telbord

Barrydale se manne gee alles in fisieke stryd, dit weet almal. Die kragmeting teen Progress was sonder twyfel een van die beter dae op die veld vir die manne van Barrydale – al het die telbord nie uitgebeeld wat hulle op die veld vermag het nie.

Onder die leierskap van Iben Furgeson het die span as ’n eenheid elke situasie benader. Die span het as ‘n goed verdedig, en danksy vuurvreters soos Michael Vaaltuin het die besoekers gereeld gekreun van die pyn in die kontak-situasie. Soveel so dat sekere Suurbrakers dalk spyt is dat hulle nie meer in Barrydale speel nie…

Die agtsteman Xavier Braaf het weereens sy stempel op die wedstryd afgedruk en dit duidelik gemaak dat, wen of verloor, daar altyd trots vir die trui sal wees.

Kontroversiële posisiewisseling onder die loep

Een van die kernprobleme bly egter van die spankeuses wat gemaak is. Hier kan mens net wonder of die afrigters en/of spanbestuur verantwoordelikheid gaan neem vir dit wat Eagles-ondersteuners verstom het.

Bo aan die lys is natuurlik die sotlike idee om Francois Michaels op vleuel in te span. Michaels was gedurende die 2024-seisoen die top puntemaker in die Streek Uitdaag en het meeste van die skade op senter aangerig.

Hy het tydens die kragmeting een geleentheid gehad om die bal te dra en, nes die geval toe hy verlede week teen Styders sy staal gewys het, het Michaels die eerste keer toe hy besit gekry het sowat vier verdedigers geklop om die beste drie van die dag te gaan druk.

Eagles-ondersteuners meen dit is nou tyd vir van die ouer garde om nie meer met die span in te meng nie.

Skeidsregter onder vuur ná swak vertoning

Beide spanne is dit eens dat die blaser beslis nie een van sy beste dae geniet het nie. Vir die neutrale ondersteuner wat hierdie wedstryd aanskou het, wou dit voorkom of die skeidsregter net eenvoudig nie die reëls van die spel ken nie.

Van aanslane tot besluite by die afbreekpunte, en dan natuurlik ‘n omstrede drie wat amper daartoe gelei het dat die Eagles van die veld af stap – dit was niks minder as ‘n nagmerrie nie.

En al kan die Eagles nie met vertroue sê dat hulle die wedstryd sou gewen het indien daar meer regverdigheid was nie, was dit wat tussen die vier lyne gesied het beslis nie waarvoor ondersteuners hul hekgeld betaal het nie.

Gelukkig was die wedstryd opgeneem en News62 wil graag die Boland Rugbyunie aanraai om ondersoek in te stel.

So kan dit nie aangaan nie.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my honde se name is Bella, Obi en Jasper.

Leave a Comment