Community Featured News

Slapelose nagte duur voort vir kind wat deur wetstoepasser raakgery is

Written by Mickey Mentz

Deandre Cupido is maar een jaar en ses maande oud, en volgens sy ouers sukkel hy steeds om te slaap nadat hy op 9 Mei deur ’n wetstoepasser van die Swellendam Munisipaliteit raakgery is.

Die voorval het omstreeks 15:40 by die ou markplein langs 4 Way Liquors in Van Riebeeckstraat plaasgevind. Deandre het in hierdie gebied, waar daar selde enige voertuie is, in ’n leë boks gespeel. Hy en sy ma, Donae, het daar gewag vir sy pa, Shaun Marthinus, om van die werk af te kom.

Volgens getuies het Deandre ’n harde hou teen die kop gekry, en as dit nie vir ’n bystander was wat ingegryp het nie, sou hy waarskynlik onder die wiele van die voertuig beland het.

“Ons het gesit en gewag vir Shaun toe die wetstoepasser die parkeerarea injaag om mense wat dronk is te beboet,” verduidelik Donae.

“Die beampte het agter om die gebou gery, daar waar die tafeltjies is, en die boks waarin ons kind was, is deur die kar gestamp. Deandre het amper onder die kar se wiel beland,” het Shaun bygevoeg.

Precia Mauries het Deandre onder die voertuig uitgesleep, waarna die wetstoepasser die kind en sy ma na die kliniek geneem het.

“Ons het daarna polisiestasie toe gegaan, maar hulle wou nie my saak aanvaar nie. Ons is toe kliniek toe, maar al het hy sy kop baie hard gestamp, het hulle gesê daar is niks fout nie,” vertel Donae.

Precia Mauries vertel wat gebeur het:

Munisipaliteit ontstel oor die voorval

“Swellendam Munisipaliteit is bewus is van ’n voorval wat op 9 Mei plaasgevind het en waarin ’n munisipale wetstoepassingsvoertuig en ’n kind naby die hoek van Van Riebeeckstraat in Barrydale betrokke was,” het die Munisipale Bestuurder, Annaleen Vorster, in antwoord op ’n navraag gesê.

Vorster en Barrydale se Dorpsbestuurder, Wilma Karsten, het egter eers op 20 Junie van die voorval kennis geneem. Die feit dat so ’n ernstige voorval, waar ’n kind beseer is in ’n gebied waar voertuie normaalweg nie toegelaat word nie, nie aan topbestuur deurgegee is nie, wek groot kommer.

Vorster het onmiddellik ’n ondersoek geloods en die volgende inligting is uiteindelik aan haar verskaf:

“Die kind, wat gespeel en weggekruip het in ’n boks wat op die straathoek geplaas was, was nie sigbaar vir die amptenaar wat die voertuig bestuur het nie en is per ongeluk gestamp tydens die verbybeweeg.”

“Die wetstoepassingsbeampte het onmiddellik ná die voorval beide die kind en sy ma na die naaste mediese fasiliteit vervoer. Mediese personeel het bevestig dat die kind geen fisiese beserings opgedoen het nie.”

“In ooreenstemming met protokol is die saak dieselfde dag by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangemeld. Ná beoordeling het die polisie bevestig dat geen saak geopen sou word nie, aangesien geen beserings opgedoen is nie en die voertuig onbeskadig gebly het.”

“Hoewel die Munisipaliteit diep verlig is dat geen fisiese skade aangerig is nie, is die voorval deeglik ondersoek om te verseker dat alle relevante prosedures nagekom is en om vas te stel of enige korrektiewe maatreëls nodig is. Die welstand van ons gemeenskap, veral van sy jongste lede, bly ons hoogste prioriteit.”

“Die Swellendam Munisipaliteit spreek ook sy waardering uit teenoor die mediese personeel en polisiebeamptes vir hul vinnige reaksie en samewerking.”

“Verdere opdaterings sal verskaf word soos die ondersoek vorder.”

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my honde se name is Bella, Obi en Jasper.

Leave a Comment