Featured News

Gemeenskap stig ’n Behuisingkomitee om feite oor Behuisingsprojek te verskaf

Deur Gabriel Francke

Swellendam se behuisingsprojek het ’n behuisingkomitee, wat die afgelope week in die kollig gekom ná ’n versoek om duidelikheid oor die proses en huissleutel oorhandiging, gestig.

Op Dinsdag, 17 September, het sowat 180 inwoners by die Railton Gemeenskapsaal saamgetrek vir ’n openbare vergadering, versoek deur die Uitvoerende Burgemeester, Francois du Rand en bygewoon die Munisipale Bestuurder, Anneleen Vorster, Behuisingsbestuurder Lucinda Cupido en Direkteur van Gemeenskapsdienste, Keith Stuurman.

Die Behuisingskomitee is verkies en bestaan uit Okkie Windvogel, David Baatjies, Sandra van Zyl, Shahieda Rhode, Zakia Ebrahim, Regenald Afrika, Lidon Witbooi en Albert Snyman.

Hierdie komitee sal voortan saam met Du Rand, Vorster, Cupido, Stuurman, ASLA en die Provinsiale Regering op 6 Oktober vergader.

Die doel van die komitee is om saam oplossings te vind en seker te maak dat die gemeenskap korrekte inligting ontvang – sonder valse stories.

Vandaar het Du Rand die vergadering met ’n verduideliking van die behuisingskriteria, geopen. Hy het veral verwys na die inkomstegrens van R3 500 per maand wat sedert 1994 vasgestel is en nooit aangepas is nie.

“Die R3 500-inkomstebegrensing sluit geen toelae in nie. Hierdie limiet is in 1994 ingestel en nog nooit hersien nie. Die Nasionale Regering móét dit verhoog as ons ernstig wil wees oor billike toegang tot behuising,” het Du Rand gesê.

Hoewel die onmiddellike bekommernis vir baie inwoners die moontlike teruggee van huissleutels was, het hulle beklemtoon dat die grootste probleem die gebrek aan kommunikasie was.

Volgens die gemeenskap is belangrike veranderinge aan die proses nie vooraf aan hulle gekommunikeer nie. Die munisipaliteit het egter verduidelik dat kennisgewings oor die reëls en regulasies op hul webwerf geplaas was, met ’n sluitingsdatum van 31 Oktober 2024.

Alhoewel die bekommernis nie net is dat baie inwoners hul huissleutels moet teruggee nie, maar die feit hoe hulle hul huise moet terug gee nadat hulle klaar goedgekeur was en dit ontvang het.

“Ons wil weet wat presies nou gaan gebeur met ons wat ons huis se sleutels moet teruggee, want ons almal het families en het n dak oor ons kom nodig. Waarvan geen moeite gedoen was om die informasie deur te gee was van hierdie baie veranderinge nie,” het inwoner gesê.

In ’n onderhoud met News62 op 18 September het Du Rand beklemtoon dat geen ondersoek of proses aan die gang is om inwoners van hul huissleutels te ontneem nie.

 “Ons het die saak aan die Provinsiale Regering verwys, want dit is húlle wat die aansoeke goedkeur. Ons rol is om die proses deursigtig te maak en inwoners reg in te lig,” het hy verduidelik.

Du Rand het verder gesê dat sy wens is dat die Nasionale Regering die inkomstegrens opwaarts sal hersien.  Hy het die inwoners ook gewaarsku om nie valse inligting te verskaf op aansoeke, wat volgens hom “desperate mense tot kriminele maak” omdat valse inligting volgens die wetgewing as strafbaar beskou word.

Die vraag wat nou in die lug hang: Wie dra die verantwoordelikheid vir die verwarring – die munisipaliteit, die Provinsiale Regering of inwoners wat moontlik vals inligting verskaf het?

Barrydale Hand Weavers

Leave a Comment