Groot vordering is gemaak met die voorbereiding vir Swellendam se nuwe privaat hospitaal, met sowat 70% van die noodsaaklike dokumentasie reeds afgehandel voordat konstruksie kan begin.

Volgens VM&K se uitvoerende bestuurder, Johan van den Berg, is die span nou in die finale fase sodat die hersoneringsproses kan begin. Sodra dit goedgekeur is, kan die nodige planne ingedien word vir goedkeuring sodat konstruksie in alle erns aan die gang kan kom.
Die splinternuwe Humanitas Hospitaal sal in die Oewerlust Landgoed in Voortrekstraat opgerig word en dienste soos ’n 24-uur noodafdeling, noodvoorsieningsafdeling, radiologie en laboratorium bied.
Van den Berg het op 31 Oktober met Fanie Theron van Chianti Property Holdings vergader om te verseker dat geen aspek van die huidige fase uit die oog verloor word nie.
Die hospitaal word geskoei op Chianti se Gansbaai-ontwikkeling wat tans in aanbou is.
Hoewel die administratiewe proses omvangryk en soms uitputtend is, meen Van den Berg dat die lewering van wêreldklas mediese dienste vir Swellendam vir hom ’n prioriteit bly.
“As jy nie regtig kans sien om iets te doen nie dan soek jy verskonings, maar as jy dit regtig wil doen, vind jy ’n weg,” het Van den Berg gesê.
Theron sê hy is tevrede met die momentum.
“Ten spyte van ’n paar struikelblokke aan die begin, is ek opgewonde dat alles nou in plek is en dat ons binnekort die finale dokumentasie vir goedkeuring sal indien,” het hy gesê.
Terwyl die lisensie voorsiening maak vir 60 beddens, sal die aanvanklike boufase 30 beddens akkommodeer. Ander fasiliteite sluit chemo-beddens, dialise-behandeling en ’n ginekoloog in.




