Swellendam – Die Johnson-gesin van Stasiestraat is op 3 Augustus omstreeks 23:12 wakkergeskrik toe ’n petrolbom hul huis getref het.
Volgens Lee Johnson het die huis se alarm afgegaan en hy vermoed dat die verdagtes, twee mans, oor die muur gespring het met die doel om sy voertuig te teiken.
Hy het opgestaan, die alarm afgeskakel en toe groot vlamme by die sitkamervenster opgemerk.
“Die twee mans het eers oor die muur gespring. Hulle het seker van die alarm geskrik en toe die petrolhouer laat val en aan die brand gesteek,” het Johnson verduidelik.
Hy het die voorval onmiddellik by die Swellendam SAPD aangemeld. Geen persone is beseer nie. Daar is slegs brandskade aan die sydeur van die woning aangerig.
Swellendam SAPD is vir kommentaar genader, nog geen terugvoer ontvang nie.
Onder: Foto’s van die deur wat kort voor middernag aan die brand gesteek is.


Tweede ernstige voorval by die woning
Volgens Johnson is hierdie die tweede aanval by sy woning in ‘n baie kort tydperk.
Sowat drie weke gelede het iemand ‘n baksteen deur die huis se voorruit gegooi.





