Community Featured News

Snyman gereed om diep spore by Barrydale Agrimark te laat

Written by Mickey Mentz

Van plaasboer tot dorpsinwoner, die nuwe bestuurder op Barrydale is gereed om die gemeenskap met trots te dien.

Hy kruip nie agter sy masker of in sy kantoor weg nie – nie Anthony Snyman nie. As nuwe bestuurder by Agrimark Barrydale is hy aan die voorfront van nuwe ontwikkelinge en sien hy daarna uit om saam met die gemeenskap ‘n belowende, indien iewat onsekere, toekoms aan te durf.

Hoewel hy reeds sedert April die pos bekleë, kon Snyman weens die Covid inperkings nog nie by al die gemeenskapsprojekte en -byeenkomste inskakel waarby hy sou wou nie.

Die vreemde omstandighede tydens sy eerste paar maande het dalk nie sake vir hom maklik gemaak nie, maar, beaam die 39-jarige pa van twee (‘n agtjarige seun en ‘n dogter van sestien) die dorp het hom met ope-arms verwelkom het.

“Dit was ‘n deurmekaar tyd gewees. Die vorige bestuurder (Janru Shade) kon nie onmiddelik sy trek hier laai nie en ons moes noodgedwonge die oorgang uitstel,” verduidelik Snyman.

Vir die man wat op Carnarvon in die Noord-Kaap grootgeword het en dus geen vreemdelling tot kleindorp-kultuur is nie, was dit uiteraard belangrik om te sorg dat hy so gou moontlik sy grootste kliënte – die boere – beter te leer ken.

“Ek het onmiddelik die gevoel gekry dat die boere hier die belange van die dorp in sy geheel op die hart dra en ook die vooruitgang van ons besigheid as belangrik beskou,” vertel Snyman.

Dit is waarom hy sy fokus op verbeterde dienslewering asook die beskikbaarheid van die regte produkte geplaas het.

“By Agrimark Barrydale wil ek sorg dat ons slegs die beste diens aan ons kliente lewer. Ek sal ook graag daarvan in kennis gestel wil word indien iets nie reg is nie sodat ons kan verbeter.”

Snyman meen dat die opleiding van sy personeel ‘n belangrike rol in die tak se groei gaan speel en is opgewonde oor di twat die toekoms inhou.

Agtergrond

Snyman het op Carnarvon matrikuleer waarna hy onmiddelik ‘n pos by sy plaaslike bank as teller aanvaar het. Kort voor lank het hy die dorp se stofstrate agtergelaat en Wellington toe getrek, waar hy vir 14-jaar in die bankwese gewerk het.

Toe daar sprake van almalgamasie tussen die groot banke gekom het, het hy besluit om by Kaap Agri aan te sluit en in 2012 het hy in Paarl met sy opleiding as bestuurder begin.

In 2014 is Snyman as assistant-bestuurder van Agrimark Montagu aangestel, waarna hy uiteindelik sy pad na Barrydale gevind het.

Hy en sy gesin woon steeds in Montagu aangesien sy vrou by die Ashton munisipaliteit werk  (Nee, sy is nie by die bou van daardie reause brug betrokke nie… ons het gevra).

Soos meeste warmbloedige Suid-Afrikaners is hy in murg en been ‘n rugbyliefhebber, hoewel hy op skool genoodsaak was om sokker te speel.

Andersins geniet Snyman dit om tyd saam met sy gesin te spandeer en om fiks te bly hou hy daarvan om fiets te ry. Daar is egter nie ‘n Cape Argus in sy naby toekoms nie. Hy is veel meer van ‘n petrolkop en geniet dus die oop pad – geteer of nie.

Hy het wel besluit om verder aan ‘n LLB te studeer aangesien dit ‘n droom is wat hy weens werksverpligtinge nog nie kon aanpak nie.

Die toekoms

Snyman is vertroud met die omgewing en hy verstaan die pyn wat boere weens droogtes ervaar het en dat die damme nog nie vol is nie. Hy wil graag deel van ‘n oplossing wees en in ‘n ideale wêreld is dit vir hom ook belangrik dat sy besigheid later die vrugte van samewerking kan pluk.

Hy glo daarin dat die sukses van sy tak direk aan die gemeenskap gekoppel is en dat dit “baie belangrik om terug te ploeg in die gemeenskap.”

AgriMark Barrydale het oudergewoonte vanjaar se Barrydale in Bloom ondersteun. Snyman glo egter dat sy tak se bydrae nog nie op ‘n vlak is waarmee hy tevrede is nie, maar hy weet dat wanneer die tak begin groei, hul bydrae tot die gemeenskap dienooreenkomstig sal groei.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel soveel so dat ek dit deesdae ook verkoop. My honde se name Obi en Jasper.

Leave a Comment