Inspirerende blomkrans-ambassadeurs, ʼn kalender propvol virtuele gebeure en selfdoenwenke vir ʼn tuinviering gaan plantliefhebbers regoor Suid-Afrika byeenbring wanneer Tuindag, meer betekenisvol as ooit, die lente inlui.
Op Sondag, 11 Oktober, gaan Suid-Afrikaners regoor die land hul unieke groen ruimtes en tuine in elke vorm en grootte vier. Tuindag, geskep met die tuin-toep Candide, is ʼn groeiende beweging wat al sedert 2016 mense met ʼn liefde vir plante en blomme verenig.
Hierdie jaarlikse viering nooi alle plantliefhebbers – die verskaffers van kitsgrasperke, die werkers in gemeenskapstuine, groenteverbouers, planters op patio’s en vensterbanke en in daktuine – om ʼn blomkrans op te sit, ʼn slag hul tuingereedskap neer te sit en die vrug van hul arbeid te geniet.
Vanjaar is Tuindag veral betekenisvol. Oor die laaste paar maande het Suid-Afrikaners hulle na groen ruimtes gewend vir vertroosting en balans. Daar is bewys dat tuinmaak geestelike en liggaamlike welsyn bevorder, en ʼn gevoel van samehorigheid en verbondenheid skep.
Met die lente in die lug bied dit ʼn geleentheid om bietjie asem te skep, na te dink en ʼn seisoen vol nuwe geleenthede te vier. Of jy ʼn piekniek in die buitelug saam met jou gesin geniet of jou groen hawe aanlyn met vriende deel, Tuindag gaan daaroor om ʼn oomblik stil te staan en die groenigheid om jou wat jou vreugde verskaf te waardeer.
Die gelukseffek van tuine
Volgens ʼn onlangse opname deur Candide het 96% van mense gesê hulle voel gelukkiger as hulle hul aftydjies in hul tuin deurbring. Die bevindings het getoon dat die gewildste tuinaktiwiteite is om plante in ʼn gunstelinghoekie van die tuin te bewonder, na voëlsang te luister en die dierelewe dop te hou, die vars lug en tuingeure in te asem, ʼn koppie tee en ʼn geselsie te geniet, rustig op hul eie iets te eet, met kinders te speel, ʼn boek te lees of op die gras te lê.
“Daar is bewys dat as jy jou met plante en blomme omring, sal jy waarskynlik gelukkiger wees. Ek kan daarvan getuig,” sê Adene Nieuwoudt, ʼn blomboer van Wolseley.
“My blomme gee my energie en maak my entoesiasties. Tuindag is die ideale viering om dié sentiment uit te druk.”
“ʼn Rustige kreatiwiteit volg uit tuinmaak,” sê die bekroonde binnenshuise versierder Donald Nxumalo. “Gewoonlik jaag ek teen die horlosie, maar op my balkon kan ek die proses stadig laat ontwikkel. Dit gee my balans en nuwe energie. Dit inspireer my ontwerpwerk.”
Nieuwoudt en Nxumalo is enkele van die 2020 Tuindag-ambassadeurs wat ʼn blomkrans tydens vanjaar se vierings gaan dra. Saam met hulle is daar van Suid-Afrika se mees geliefde blom- en plantentoesiaste, soos landskapontwerper Joy Phala, Babylonstoren se blomkunstenaar Constance Stuurman en meestertuinier Gundula Deutschlander, sjef Nti, akteur, skrywer en regisseur Donnalee Roberts, operasanger en televisieaanbieder Lynelle Kenned en besoekende kunstenaar Alice Toich.

Raak deel van die beweging
Om Suid-Afrikaners te inspireer om alles wat groen is te vier, sal Tuindag gasheer speel vir ʼn aantal virtuele gebeure in die aanloop tot Sondag, 11 Oktober. Dit sluit in ʼn slypskool om blomkranse, die moet-hê item vir vanjaar se Tuindag, te maak. Op die dag sal die beweging via Zoom en Facebook Live hul eerste virtuele Tuindagbyeenkoms hou met ʼn magdom gebeure, insluitend jogasessies, tuingeïnspireerde gourmet-kookkuns en vele meer. Die finale program en besonderhede sal aan die begin van Oktober op Gardenday.co.za/Events bekendgemaak word.
Besoek Gardenday.co.za/GetInvolved vir inligting om jou te help om die perfekte virtuele viering te beplan, met resep-idees, aflaaibare uitnodigings vir jou virtuele viering, en dinge om met kinders in die tuin te doen en te maak.
Kry die jongste nuus en inspirasie by @GardenDaySA op Candide, Facebook, Instagram, TikTok en Twitter. Merk jou plasings @GardenDaySA en #GardenDaySA om jou groen vierings aanlyn met vriende, familie en medeplantliefhebbers te deel.




