Featured • News

Swellendam se raad neem afskeid – maar wie aanvaar verantwoordelikheid?

Written by Mickey Mentz

Die raad vergader vandag vir oulaas en vir diegene wat ’n beter begrip het van die beweerde korrupsie wat in die raad heers, is daar net twee woorde: Dankie tog!

Die munisipale bestuurder, die Speaker en raadslede vergader vanoggend omstreeks 10:00 vir oulaas, want volgende week Woensdag word nuwe leiers verkies.

Vir baie van hulle behoort dit ’n tyd van introspeksie te wees. Hulle laat ’n nalatenskap van onbeantwoorde vrae, duur forensiese ondersoeke en versuim om verantwoordbaarheid af te dwing.

Die vergadering vind plaas teen die agtergrond van ondersoeke na moontlike finansiële onreëlmatighede, bedrog, korrupsie, asook die wangedrag van raadslede in die gemeenskap.

Daar is reeds deur twee onafhanklike maatskappye bevind dat daar genoeg gronde bestaan vir ’n volledige ondersoek na bewerings van wanbestuur teen die munisipale bestuurder, Anneleen Vorster.

Die ondersoeke het aanbeveel, na bewerings dat sy haar verkeershoofde aangeraai het om dokumente terugwerkend op te stel, dat sy en twee amptenare geskors word. Die raasdslede wat vandag vir oulaas daar sit, het besluit om nie die aanbevelings te volg nie.

Dan moet daar ook gekyk word na waarom die Speaker steeds nie ’n uitspraak kon lewer oor die ondersoek wat teen raadslid Amanda Swart ingestel is nie.

Die belastingbetaler het reeds vir nóg ’n duur ondersoek betaal. Kaap Agulhas Munisipaliteit se munisipale bestuurder, Wessel Rabbets, het klaarblyklik ook ’n onafhanklike verslag opgestel wat gevolge vir Swart, Vorster en die verkeershoofde behoort in te hou.

News62 het ’n reeks vrae aan die Speaker se kantoor gestuur, maar het teen publikasie van die berig nog geen terugvoering ontvang nie.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel soveel so dat ek dit deesdae ook verkoop. My honde se name Obi en Jasper.

Leave a Comment