Van versteekte tuine en ’n feesmaal onder die Klein Karoo-sterre tot kuns, letterkunde en die redding van lewens: Barrydale in Bloom keer van 6 tot 8 November terug met ’n program wat wys waarom hierdie dorp se grootste bate dalk juis sy mense is.

Daar is ’n besondere soort trots wat jy nie op ’n toerismeplakkaat kan druk nie. Jy sien dit in ’n tuin wat iemand met geduld en verbeelding uit ’n stukkie dorre grond geskep het.
In ’n gemeenskap wat sy deure vir vreemdelinge oopmaak en in mense wat besluit dat ’n dorp se skoonheid nie net bewonder moet word nie, maar ook iets goeds vir sy inwoners moet beteken.
Dit is die hart van Barrydale in Bloom, wat van 6 tot 8 November vanjaar weer die tuine, kuns, kos en mense van Barrydale op die voorgrond plaas.
Maar moenie jou laat flous deur die naam nie. Hierdie is veel meer as ’n naweek vir tuinliefhebbers met sonhoede en kameras.
Agter die blomme is daar ’n gemeenskap wat saamwerk, plaaslike kreatiwiteit wat ruimte kry om te groei en ’n baie konkrete doel: om geld in te samel vir Barrydale Hospice, ’n diens waarvan mense se lewenswaardigheid op hul ou dag afhang.
In ’n streek waar water skaars is, temperature uiterstes bereik en ’n mooi tuin nie vanself gebeur nie, is daar iets besonders aan mense wat steeds daarin glo om dinge te laat groei.
Van pragtuine tot ’n gemeenskapsfees

Barrydale in Bloom het oor die jare ontwikkel van ’n geleentheid waar inwoners hul tuine oopstel tot ’n veel groter viering van die dorp se karakter.
Die geskiedenis daarvan strek minstens terug tot 2017, toe die geleentheid reeds as ’n oop tuintoer deur Barrydale en Smitsville bemark is. Teen 2018 het die fees besoekers genooi om verby die beskeie voorkante van plaaslike huise te stap en die verrassende wêreld van inheemse plante, tuine en plaaslike handwerk daaragter te ontdek. News62 het ook in 2020 berig oor groentetuine in Smitsville wat tydens die pandemie ’n besondere rol in die gemeenskap gespeel het.
Dit is juis daardie laaste aspek wat die fees interessant maak. Die storie gaan nie net oor wat mense in hul eie erwe vermag nie, maar oor wat gebeur wanneer kennis, entoesiasme en ’n gemeenskaplike doel oor grense heen gedeel word.
Wanneer meer as 20 tuine in Barrydale vanjaar hul hekke oopmaak, kry besoekers die geleentheid om ’n kant van die dorp te sien wat maklik by ’n vinnige deurry op die R62 verbygaan.
Die tuine verskil in styl, grootte en benadering, maar hulle deel een ding: iemand het tyd, arbeid en verbeelding daarin belê.
En in die Klein Karoo is dit geen geringe prestasie nie.
’n Dorp met wortels in landbou

Barrydale se verhouding met die grond is nie ’n nuwe leefstylkeuse nie. Dit lê diep in die geskiedenis van die dorp.
Die gebied het lank voor die formele vestiging van die dorp mense en gemeenskappe gehuisves. Europese boere het later na die vallei gekom op soek na bewerkbare grond en water. Barrydale is in 1878 as ’n dorp gevestig, en landbou, veral vrugteverbouing en later wingerdbou, het ’n belangrike rol in die plaaslike ekonomie gespeel.
Die landskap waarin Barrydale lê, is deel van sy identiteit: die Langeberge, die Tradouwvallei, die vrugteboorde en die oorgang na die droër Klein Karoo.
Dit is ’n plek waar water nie as vanselfsprekend aanvaar kan word nie en waar die sukses van landbou dikwels afhang van hoe goed mense die grond en klimaat verstaan.
Daarom is vanjaar se nuwe toevoeging tot Barrydale in Bloom besonder welkom: ’n Landboudag by die Belanti-saal van die Karoo Art Hotel.
Die oggend bring boere, kundiges en belangstellendes bymekaar vir praktiese gesprekke oor regeneratiewe boerdery, waterwyse landbou, klimaatsveerkragtigheid en olyfverbouing.
Daar is ook ’n olyfolieproe met Suid-Afrikaanse olies, ’n gesamentlike middagete en ’n praktiese demonstrasie oor hoe om olyfbome te snoei.
Dit is ’n sinvolle uitbreiding van ’n fees wat reeds oor plante, tuine en die plaaslike omgewing gaan.
Want om ’n tuin in Barrydale te laat floreer, is een ding. Om te verstaan hoe ons ons grond, water en landbou vir die volgende geslagte kan beskerm, is ’n veel groter uitdaging.
Vrydag: Vuur, kos en ’n tafel vol Klein Karoo

Die naweek skop Vrydagaand, 6 November, om 18:00 op Môreson af met ’n langtafel-ete onder leiding van die bekende sjef Johnny Hamman en sy span, aangebied as ’n John Joseph Theatrical Food Experience.
Moet nie ’n gewone aansit en eet-ete verwag nie.
Die spyskaart vier die streek se produkte en geure, met warm roosterkoek, wildolyfstokbrood, mosbolletjies, askoek en ’n suurdeegbrood met gedroogde vrugte.
Daar is geelvetbiltong en koedoe-carpaccio met vuurgeroosterde druiwe, ingelegde Karoo-knoffel en olyfolie.
Die hoofgereg is ’n lamsvleis-asado, met aartappels wat in lamsvet en kruie gaargemaak word, ’n groen slaai en verkoolde suikermielies met plaasbotter en tuisgemaakte “aromat”.
Die aand sluit af met Suid-Afrikaanse nageregte wat hul inspirasie uit plaaslike produkte en nostalgie put.
Tussen die gange deur vind die jaarlikse Barrydale in Bloom veilings plaas, waar gaste ook hul beursies kan laat saamwerk met hul eetlus en die fondsinsamelingsdoel kan ondersteun.
Dis die soort aand wat besoekers herinner dat die Klein Karoo nie net ’n plek is om deur te ry nie. Dit is ’n plek om te bly sit, saam te eet en mense te leer ken.
Saterdag: Tuine, kuns, boeke en ’n onverwagse gesprek

Saterdag en Sondag is die tuine die groot trekpleister, maar Saterdag se feesprogram bied veel meer as ’n wandeling tussen blomme.
Die mark bring kos, plante en handgemaakte produkte bymekaar, terwyl praatjies en werksessies mense met ’n belangstelling in tuinmaak, die natuur en plaaslike kreatiwiteit byeenbring.
Een van die meer ongewone onderwerpe handel oor die opleiding van honde om gesteelde vetplante by padblokkades op te spoor.
Dit klink dalk na ’n vreemde gesprek vir ’n tuinfees, totdat jy besef hoe ernstig die onwettige handel in skaars vetplante die streek se natuurlike erfenis bedreig.
Die onderwerp kry ook ’n literêre dimensie met ’n gesprek onder leiding van die bekende skrywer Karin Brynard, wat met Sally Andrews, bekend vir haar Tannie Maria-boeke, en Irna van Zyl oor hul onderskeie boeke wat vanjaar verskyn het, sal gesels.
Albei boeke raak aan diefstal van vetplante.
Dit is ’n interessante manier om ’n belangrike plaaslike probleem onder die soeklig te plaas: deur kundigheid, gesprek en stories wat mense laat dink.
Plaaslike kunstenaars en galerye maak eweneens deel van die fees uit.
Later die middag word gaste by die nuwe Handelshvijs, geskep deur Gert van de Merwe en Jaco J. van Rensburg, vir sjampanje en canapés verwelkom.
Die program bring só ’n klomp wêrelde bymekaar wat maklik apart van mekaar kan bestaan: tuinmaak, bewaring, kuns, kos en letterkunde. Hier kry hulle ’n gemeenskaplike ruimte.
Die belangrikste blom is dalk Barrydale Hospice

Die mooiste tuin of die beste maaltyd is egter nie die rede waarom Barrydale in Bloom saak maak nie.
Die geld wat ingesamel word, ondersteun Barrydale Hospice, wat palliatiewe sorg en ander noodsaaklike dienste aan mense in Barrydale en die omliggende landelike gebiede bied.
Hospice is in 2013 gestig deur ’n groep vrywilligers onder leiding van suster Joanna van der Merwe en Nola Frazer, wat die tekort aan noodsaaklike gesondheidsdienste in die dorp wou aanspreek.
Die organisasie is in 2016 as ’n niewinsgewende organisasie geregistreer en het sedertdien sy dienste uitgebrei om ook die omliggende boerderygemeenskappe te bedien.
Dit is werk wat nie altyd op die voorblad beland nie. Dit speel dikwels in mense se huise af, ver van die openbare oog, waar pasiënte en hul families ondersteuning nodig het tydens siekte, verlies en die laaste hoofstukke van ’n lewe.
In 2024 het Barrydale in Bloom R100 000 vir Hospice ingesamel en verlede jaar het hulle uiteindelik R110 000 ingesamel.
Die 2025 fees se fondse het gehelp om meer as 900 huisbesoeke en bykans 1 000 uur se gratis sorg moontlik te maak.
Dit is die soort opbrengs wat ’n mens laat besef dat ’n gemeenskapsfees se waarde nie bloot in kaartjieverkope, besoekersgetalle of mooi foto’s gemeet kan word nie.
Een van die organiseerders, Tielman de Villiers het die kern van die projek in 2025 so verwoord.
“Barrydale in Bloom is meer as net ’n fees. Dit gaan daaroor om noodsaaklike palliatiewe sorg in ons gemeenskap vol te hou.”
Dit is ’n eenvoudige boodskap, maar een wat die hele naweek in perspektief plaas.
’n Kaartjie koop jou toegang tot tuine, gesprekke en ervarings. Jou deelname help terselfdertyd om ’n diens aan die gang te hou wat mense nodig het wanneer hulle en hul families besonder kwesbaar is.
Dit is gemeenskapsbetrokkenheid met ’n tasbare uitkoms.
Sondag: ’n Laaste tafel, nog ’n rede om te bly

Sondag se program sluit af met ’n spesiale brunch by Kamala Karoo Sanctuary, aangebied deur die kosliefhebber Peta-Dawn de Jager.
Dit bied besoekers ’n laaste geleentheid om die naweek se geure, geselskap en gasvryheid te geniet voordat die gewone lewe weer sy aanspraak maak.
Maar daar is geen rede om tot Vrydag te wag voordat jy Barrydale besoek nie. Die dorp en sy omgewing bied talle plekke om te stap, te fiets, kuns te ontdek en plaaslike produkte te proe. Besoekers wat hul naweek wil verleng, kan die feesprogram en plaaslike aanbiedinge vooraf ondersoek.
Barrydale blom omdat mense dit laat gebeur

Om oom Johannes Marthinus se huis te besoek was nog altyd ‘n hoogtepunt van Barrydale in Bloom, maar ongelukkig het die legende in Maart sy stryd met longkanker verloor. Die hoop bly staan dat die organiseerders ook tydens die jaar se feesvieringe aan hom hulde gaan bring aangesien daar geen tuine in Smitsville tydens vanjaar se fees besoek word nie.
So het Barrydale oor die afgelope jare baie aandag getrek vir sy natuurskoon, kreatiewe gemeenskap en besondere karakter. Maar die ware toets van ’n dorp se gehalte lê nie net in hoe dit vir besoekers lyk nie. Dit lê ook in hoe sy mense vir mekaar sorg.
Barrydale in Bloom bring dié twee dinge bymekaar. Dit wys die tuine wat inwoners met moeite onderhou, gee plaaslike kunstenaars en ondernemings ’n verhoog, skep ruimte vir gesprek oor landbou en bewaring en help om noodsaaklike sorg in die gemeenskap te finansier.
En miskien is dit die belangrikste rede om van 6 tot 8 November hier te wees.
Kom kyk na die tuine. Eet saam aan die langtafel. Luister na die stories. Koop iets by die mark. Ontmoet die mense wat hierdie dorp maak wat dit is.
En onthou dat elke bydrae tot die fees ook kan help om iets veel belangriker as ’n blom in stand te hou.
Barrydale in Bloom 2026 vind van 6 tot 8 November in Barrydale, Smitsville en by Môreson plaas. Kaartjies en besprekings is beskikbaar via Quicket. Vir meer inligting oor die program kan besoekers Barrydale in Bloom op Instagram volg by @barrydaleinbloom of vir Tielman de Villiers skryf by barrydaleinbloommedia@gmail.com.
Vir die volledige program en kaartjies, besoek: https://www.quicket.co.za/organisers/84256-barrydale-in-bloom-2025




