
Die stemme is getel en die politieke prentjie in Swellendam lyk aansienlik anders as vyf jaar gelede.
In 2021 het die DA met 6 219 stemme op die proporsionele verteenwoordigingsbriefie, oftewel 52,3%, ’n stewige meerderheid geniet. Tydens 99% van die Raadvergaderings het dit beteken dat die DA, met die hulp van die VF Plus, met ses stemme teen vyf kon besluit wat gebeur.
Meer onlangs het dit hulle toegelaat om die bevindings van pepperduur forensiese ondersoeke onder die mat te vee.
In 2021 het die ANC het 4 699 stemme gekry, terwyl die VF Plus 368 stemme op sy naam gehad het. Die PA? ’n Skrale 26 stemme.
Die PA maak sy merk
In 2026 het die DA se steun tot 5 252 stemme, oftewel 39,8%, gedaal. Die ANC het ook grond verloor en staan nou op 4 380 stemme, teenoor 4 699 in 2021. Die VF Plus het effens verbeter, van 368 na 565 stemme.
Maar die groot verandering PA wat nou ‘n groot rol in die munisipaliteit gaan speel.
Van 26 stemme in 2021 tot 2 846 in 2026 is nie ’n klein sprong nie. Die party het nou twee setels in die nuwe raad en het homself stewig op Swellendam se politieke kaart geplaas.
Die uiteindelike setelverdeling lyk só:
- DA: 4 setels, teenoor 6 in 2021. (‘n tussenverkiesing in 2023 het die tot 5 laat daal)
- ANC: 4 setels, dieselfde as in 2021.
- PA: 2 setels, teenoor geen setels in 2021.
- VF Plus: 1 setel, dieselfde as in 2021.
Dus het geen party het die ses setels wat nodig is vir ’n meerderheid nie. Die PA se twee setels plaas hom dus in ’n belangrike posisie wanneer die koalisieonderhandelinge begin.
Die vraag is egter of die party uiteindelik saam met die DA, ANC of ’n ander kombinasie sal regeer.
Maar hou jou stoel vas, hier kom die interessante deel.
Die PA se slagspreuk is “Ons baiza nie.” Dit is ‘n uitdrukking wat min verduideliking nodig het: ons is nie bang nie, ons deins nie terug nie.
Sure, dit is mooi woorde, maar nou gaan die party die geleentheid kry om te wys wat dit in die praktyk beteken.
Gaan hulle tydens die koalisieonderhandelinge baiza wanneer die ongemaklike sake op die tafel kom? Gaan hulle die dokumente lees, die vrae vra en aandring op antwoorde? Of gaan die nuwe politieke bedeling bloot ’n ander kombinasie van dieselfde ou stiltes oplewer?
Die realiteit is dat die nuwe raad van Swellendam nie ‘n skoon tafel erf nie.
Daar is ’n geskiedenis van ondersoeke, aanbevelings, uitgawes en besluite wat steeds verduideliking verg. Die mense het nie net nuwe politieke gesigte verkies nie.
Hulle wil leiers hê wat ongemaklike vrae oor, byvoorbeeld uitgewysde korrupsie, kan beantwoord. Inwoners soek leiers wat bereid is om verantwoordelikheid te aanvaar en die wurms in die stelsel te verwyder.
Die geskiedenis lê nie begrawe nie
Swellendam se vrae oor bestuur en aanspreeklikheid het nie met die afgelope verkiesing begin nie.
Reeds in 2011 het die destydse Wes-Kaapse Minister van Plaaslike Regering, Anton Bredell, ’n ondersoek na die munisipaliteit se bestuur bekend gemaak.
Die ondersoek het onder meer gekyk na die funksionering van die instelling, die finansiële afdeling en bewerings van politieke inmenging in ontwikkelingsaansoeke en munisipale verkrygingsprosesse.
’n Volledige forensiese ondersoek is destyds ook versoek. In 2019 soos in 2024 is Mubesko Afrika aangestel om sake van nader te bestudeer. Die patroon raak al hoe meer duidelik.
Vyftien jaar later is ons steeds besig om oor forensiese ondersoeke, moontlike onreëlmatighede en die uitvoering van aanbevelings te praat.
Dit is ’n lang tyd om dieselfde vrae te vra.
News62 het onlangs berig dat minstens R911 512,11 aan twee eksterne forensiese ondersoeke verbind is.
Nexus se ondersoek na beweerde onreëlmatighede in voorsieningskanaalbestuur het uiteindelik R515 512,11 beloop. Mubesko Africa is teen R396 000 aangestel om onder meer die verkeersboete-administrasie en -verwerking te ondersoek. Dan is daar die onderskeie take wat Morar Incorporated moes verrig.
Die verslae is voltooi en aan die raad voorgelê. Maar wat het daarna gebeur?
Meer as R1 miljoen se ondersoeke. En nou?
Die Mubesko-verslag het onder meer aanbevelings oor moontlike skorsing teen senior amptenare bevat. Dokumente wat News62 gesien het, dui daarop dat die skorsing van drie amptenare aanbeveel is.
Die vorige raad het nie dié aanbeveling gevolg nie. Baiza?
Dit is natuurlik die raad se prerogatief om aanbevelings te oorweeg en besluite te neem, maar dan moet daar ook verduidelik word waarom ’n aanbeveling nie gevolg word nie. ’n Forensiese verslag is nie ’n duur dokument wat op ’n rak gebêre word totdat almal daarvan vergeet het nie.
Die munisipaliteit het voorheen aangedui dat daar wel op aanbevelings uit die Nexus-verslag opgetree is en dat beheermaatreëls versterk is. News62 kon egter nie ’n volledige openbare uiteensetting van alle aanbevelings en die opvolg daarvan vasstel nie.
Dit is presies waar die nuwe raad moet begin.
Nie met nog ’n ondersoek nie. Nie met nog ’n komitee wat oor die saak moet beraadslaag nie. Met die dokumente wat reeds bestaan.
Wat is aanbeveel? Wat is geïmplementeer? Wat is nie geïmplementeer nie? Wie het daaroor besluit? En waar daar moontlike finansiële of dissiplinêre oortredings geïdentifiseer is, wat het daarvan geword?
Dit is nie ’n aanval op enige individuele amptenaar nie. Dit is die soort vrae wat inwoners mag vra wanneer hul geld gebruik word om ondersoeke te betaal.
Die verkeersdepartement se vrae verdwyn ook nie
Die Mubesko-ondersoek het nie in ’n vakuum ontstaan nie.
News62 het reeds oor die verkeersdepartement se hantering van boetes, betalings en padblokkades berig.
Daar was ernstige bewerings oor ongemagtigde persone wat betalings ontvang het, geld wat moontlik in ’n diensverskaffer se rekening beland het en vrae oor wie die bevoegdheid gehad het om boetes te hanteer of te verminder.
‘n Stemnota tussen top bestuur en die troepe wat hier opgetree het staan soos ‘n vet geel puisie uit – meer hieroor later…
Die munisipaliteit het sekere bewerings betwis. Dit is sy reg, maar ’n ontkenning is nie dieselfde as ’n volledige verduideliking nie.
Waar is die betalings geboek? Wie was gemagtig om dit te ontvang? Is alle bedrae met die munisipale rekords versoen? Is enige finansiële verlies geïdentifiseer? En indien daar onreëlmatighede was, wie het daarvoor verantwoordelikheid aanvaar?
Die nuwe raad hoef nie op aannames staat te maak nie. Die ondersoek is gedoen. Die verslag is voorgelê. Die dokumente behoort beskikbaar te wees vir die raadslede om te bestudeer.
Dit is nou die geleentheid om te wys dat ondersoeke wel gevolge het.
Die PA se twee setels kom met verantwoordelikheid
Die PA het ’n merkwaardige groei in Swellendam se verkiesing getoon. Van 26 PR-stemme in 2021 tot 2 846 in 2026. Die party het nou twee setels en ’n rol in die koalisiegesprekke wat die nuwe raad se toekoms gaan bepaal.
Dit is ’n geleentheid, maar ook ’n toets.
Die PA sal moet besluit wat hy met sy nuwe politieke invloed gaan doen. Gaan die party aandring op deursigtigheid en die vorige raad se besluite behoorlik onder die vergrootglas plaas?
Gaan hulle vra waarom aanbevelings nie gevolg is nie en wat met die geld gebeur het wat aan ondersoeke bestee is?
Of gaan die dokumente maar weer in die argiewe bly lê terwyl die politieke onderhandelinge voortgaan?
Die VF Plus sal eweneens moet wys watter rol hy in die nuwe raad wil speel, want hy het saam met die DA gestem om nie van die aanbevelings toe te pas nie.
Dan is daar natuurlik ook die vorige Speaker se ondersoek oor nie een, maar twee gemeenskapsvergaderings in Barrydale wat afgehandel moet word.
Gaan die bestuur saam met die raadslid verantwantwoordelik gehou word vir dit wat hier gebeur het? Of gaan dit nog ‘n geval wees waar ‘n Barrydale vrou se ernstige klagtes ignoreer word.
News62 is van mening dat dit skokkend is dat die munisipaliteit in ‘n tyd waar geslagsgebasseerde geweld oftewel (GBV) so groot nasionnale probleem is, nie kan optree wanneer die feite op die tafel is nie.
Intussen sal die DA sal moet aanvaar dat die verlies aan sy meerderheid nie beteken dat die vrae oor sy tyd in beheer daarmee saam verdwyn nie.
So wonder kiesers dalk ook waarom die uitgaande Burgemeester geensins aan die party se verkiesingsveldtog deelgeneem het nie.
Die ANC het ook vier setels en sal deel moet wees van die gesprek oor hoe die nuwe raad aanspreeklikheid gaan hanteer. Hier kan News62 die party bedank dat van sy lede van hierdie belangrike inligting met betrekking tot die bevindings (reeds in Maart) aan ons bekend gemaak het.
Een ding is seker: Daar is genoeg werk vir almal.
Die nuwe raad moet binne die volgende 14 dae vergader en dan sal die nuwe Speaker en Burgemeester aangewys sal word.
Wat die nuwe raad moet besef is dat die mense van Swellendam nie nog ’n politieke vertoning soek nie. Hulle soek leiers. Mense wat bereid is om moeilike vrae te vra, dokumente te lees en besluite te neem, selfs wanneer dit nie polities gerieflik is nie.
Die PA sê: Ons baiza nie.
Nou begin die toets. Nie op ’n verhoog of by ’n verkiesingsbyeenkoms nie, maar om die raadstafel, waar die dokumente lê en die antwoorde wag.
Die nuwe besems is daar. Die vraag is of hulle gaan vee, of net mooi in die hoek gaan staan.




