Barrydale in Bloom skop amptelik more (10 Oktober) omstreeks 08:30 af wanneer alombekende boer Kobus Joubert besoekers trakteer op ‘n blommeruik staptog, wat by die bekroonde gastehuis Lentelus afskop.
Dit was ‘n besonderse goeie reënseisoen en daarom kan besoekers daarna uitsien om asemrowende blomme- en groentetuine tydens die twee dae te beleef.
Organiseerder Shane Petzer van die Magpie Art Collective het bevestig dat 27 tuine op die tuinsafari besigtig kan word.
Daar word ‘n mark by Sorgvry Gastehuis gehou, terwyl die meeste kwekerye in die omgewing ook gaan bont staan.
Plantliefhebbers moet egter daarop let dat sekere tuine en kwekerye slegs op die Saterdag of Sondag oop gaan wees. Tuine sal vanaf 10:00 tot 16:00 daagliks vir die publiek oop wees.
Kaarte vir die tuin-safari kan teen ‘n donasie by die Magpie Art Gallery, The Hub en Life’s Bazaar (almal in Van Riebeeckstraat) aangeskaf word.
Shane meen egter dat blommeliefhebbers eers die 11km rit na Lentelus aanpak voor daar tuinkaarte aangeskaf word.
“Die uitstappie saam met Kobus is die amptelike beginpunt van ‘n naweek waar ons weereens gaan wys presies hoe pragtig die omgewing is,” verduidelik Shane.
“Diè gastehuis, wat duskant Barrydale geliefde Joubert-Tradauw wynplaas geleë is, gaan sonder twyfel weer die gees van die dorp uitlig.”
Persone wat aan die uitstappie wil deelneem word versoek om goeie stapskoene, ‘n keps, vêrkykers/kameras en ‘n waterbottel saam te bring.

In ‘n eerste vir Barrydale in Bloom het Riku Lätti van Die Wasgoedlyn ingestem om die pragtige blomme van Barrydale in ‘n musiekvideo van die kunsternaar Brain Cloete ten toon te stel.
Riku, jy is ‘n legende en ons sien daarna uit om jou en die lieflike Jackie later vanjaar by die Barrydale Art Meander te verwelkom.
Vir meer inligting oor Barrydale In Bloom skakel Shane by 079 318 4289.
Lees hier ook hoe groentetuine deel van vanjaar se verrigtinge geword het.