Die nuutverkose voorsitter van die Barrydale Youth Desk, Ralph Swart, is keelvol vir die feit dat daar nie plaaslik meer werksgeleenthede vir geleerde mense is nie.
Hy is moeg vir die gesukkel, moeg vir die nagevolge van dwelm en alkohol misbruik in sy gemeenskap, en hy is veral moeg om te sien hoe plaaslike talent geforseer word om hul toekoms eerder in die groot stede te gaan bou.
“Ons sit hier met hoogs gewkalifiseerde mense wat in die Kaap moes gaan werk soek. Hier is nie geleenthede nie. Hier is manne met publieke administrasie kwalifikasies, onderwysers en talle ander geleerde mense, tog is hier net eenvoudig nie werk nie,” vertel Raplh.
“Kom ons gestel iemand het sy graad of kwalifikasie, hoekom is daar nie plaaslik geleenthede waar die jeug vir ten minste ‘n paar jaar kan werk en terugploeg nie?”
Ralph (23) meen ook die enigste manier om die ekonomie, wat reeds voor die Covid-19 pandemie geknak was, te herstel is, as daar ‘n nuwe generasie entrepeneurs opgelei word.
Daarom het hy reeds maande gelede met die Global Engagement Institute in verbinding getree om te probeer vasstel hoe die tekortkominge op opleidingsvlak aangespreek kan word.
In samegeweking met kenners by GEI is die plan om ‘n Khoi Café Learning Academy in Barrydale te stig en hierdie projek is besig om spoed op te tel.
“Die fokus van die Youth Desk is om entrepreneurskap vorentoe te vat en om entrepeneurs te ontwikkel, want ek glo persoonlik dat dit al is hoe ons die ekonomie van Barrydale – en van ons breë Swellendam Munisipaliteit en dan uitendelik die land – sal kan red.”
Na afloop van sy eerste maand as voorsitter erken die jong man wat besig is met sy BCom in Finansies en Finansiële Rekeningkunde aan die Universiteit van die Wes-Kaap, dat sy taak ‘n reuse een is.
Hy is egter nie bang nie. Inteendeel, daar was tydens die onderhoud ‘n vonkel in sy oog wat boekdele spreek oor sy opwinding oor die toekoms.
Ralph is die produk van die positiewe invloed wat die plaaslike nie-winsgewnde organisasie Net vir Pret tussen 2012 en 2016 op hom as vrywilleger gehad het.
Hy is nie iemand wat sal toelaat dat terugslae in die lewe hom van koers af gooi nie. Hy sien uit na die toekoms en put genot daaruit om ander te help.
“Ek wil nie, maar ek moet Oom Peter Takelo uitsonder. Hy het ‘n manier om dit by jou te laat inskink dat jy positief moet bly, positief moet dink en positief moet leef.”
“Die manier hoe Donna (Europa-Kouter) met ons as die jeug gewerk het en vir ons verduidelik het hoe belangrik dit is om die lewe met positiewe denke aan te pak, het ’n reuse impak op ons gehad.”
“Hulle het ons laat voel asof jy daar hoort. Daar was altyd ‘n gevoel van omgee, ‘n gevoel dat jy daar hoort en met daardie selfde mindset het ek aan ander mense probeer uitreik.”
Ralph glo dat die Youth Desk daarin sal slaag om op plaaslike vlak bemagtiging te bewerkstellig.
Hy het dit sy taak gemaak om die werkloosheidsyfer in sy direkte gemeenskap aan te spreek en voel dat dit tyd is vir die jeug om buite die tradisionele raamwerk te dink indien hulle sukses wil behaal.
“Ons moet manne begin ontwikkel wat die gap sien. Hier is ‘n hoop goed wat kan gedoen word, en dit is wragtig tyd.”
Hy het onlangs ‘n inspirasie veldtog van staple gestuur waarin hy op die Youth Desk se Facebookblad mense van die gemeenskap wat rolmodelle vir die jeug is onder die kollig plaas.
Die Youth Desk het ook ambisies om ‘n rehabilitasiesentrum in die drop op te rig en hulle het die Tradauwshoek Plaashuis as die ideale perseel vir die projek identifiseer.
“Daar is niks vir die jeug van Barrydale nie. Daar is niks wat ons kan doen vir ontspanning nie.
“Wat doen die jeug oor ‘n naweek? Hulle is of met alkohol of met dwelms betrokke.”
Die versoek om die verlate perseel oor te neem, asook ‘n besigheidsplan, is onlangs by die Swellendam Munisipaliteit ingedien.
Intussen het die Youth Desk ook planne om ‘n plaaslike groentemark op die been te bring en daar word ook beoog om binne die volgende jaar ‘n amptelike jeugkantoor op te rig.
Ralph se kort termyn doelwit is om ten minste een werksgeleentheid binne die volgende ses maande te skep – al is dit net vir iemand om drie keer per week die Youth Desk kantoor te beman.
Agtergrond
Ralph is ‘n gelowige jong man en glo dat dit belangrik is om volgens die Bybel te leef. Hy draf graag en hou daarvan om skaak te speel. Hy het matriek by Hoërskool Swellendam voltooi, waar hy ook koshuishoofseun van Excelsior was.
Hy was ook eerste prins (tweede plek) tydens die Mr Hoërskool Swellendam skoonheidskompetisie, hoewel sy meisie wat aan die ander kant van die berg woon hom altyd as die wenner sal beskou.
Vir meer oor die Barrydale Youth Desk volg hulle op Facebook