Daar word ernstig vermoed dat een te veel by ‘n plaaslike watergat tot ‘n onverwagse stortreën by ‘n bekende instelling in Barrydale se voorstoep gelei het.
Dit is sekerlik nie ‘n geheim dat menigte manne daarvan hou om die natuur se roep in die natuur self te beantwoord nie, maar jy moet dan seker maak jy bevind jouself wel in die natuur en nie by die hoofingang van een van die mees gesogde instansies van die dorp nie.
Hierdie onverwagse “leiwaterbeurt” het laat die nag plaasgevind en watokal moontlik tot die openbare misstap mag gelei, almal is dit eens: so tree mens nie op in ‘n klein gemeenskap nie – veral nie as jy opstelle oor die stand van plaaslike politiek op al wat ‘n platform is publiseer nie.
Volgens die sekuriteitswag wat hierdie onnodige ekshibisionisme moes aanskou en rapporteer het, het ‘n besope man bloot om die hoek gekom, sy ritssluiter losgemaak en laat waai met die waterwerke.
Die ironie van die saak is dat die leier sy eiendom met elektriese bedrading omhein het omdat hy… wel… glo moeg daarvoor was dat klante van die plaaslike drankwinkel op sy perseel water afslaan.




