Casrè Husselman en Matthew Janniker het Barrydale Rolbalklub met trots tydens die onlangse Boland Rolbal Kampioenskappe verteenwoordig waar hulle as junior pare kampioene bekroon is.
Terwyl Matthew al van tevore sy vernuf in die sport bewys het, was dit ‘n eerste groot sege vir Casrè aangesien hy meer bekend is vir sy prestasies op die rugbyveld.
Die kranige rugbyspeler het onlangs ‘n besering opgedoen en het toe besluit om so bietjie rolbal te begin speel.
Min het hy geweet dat hy ook hierdie sport so sou geniet en so sou goed vaar.
“Ek het laasjaar ‘n kniebesering opgedoen en ek kon net eenvoudig nie so lank stil sit en niks sport doen nie,” verduidelik die jong man en leerder van Montagu Hoërskool.
Hy het ook bevestig dat daar in Barrydale beslis na die ontwikkeling van jong spelers gekyk word en hier speel die rol van borge soos Route 62 Stop ‘n groot rol.