Suurbraak het hierdie naweek op hul voete gestaan vir hul geliefde Progress RFC, wat in ‘n naelbytstryd teen Young Good Hope van Ashton 25-27 verloor het.

Die voorspelling van ‘n 50/50 kans vir reën het die opwinding aangevuur en beide spanne het op die Graveyard Park met ongelooflike toewyding meegeding.
Young Good Hope het die wedstryd afgeskop met uitmuntende sportmanskap en die spel van beide spanne was werklik beeldskoon. Die passie en toewyding van Progress se ondersteuners, wat met oorgawe hul span aangemoedig het deur elke lied te sing, was ‘n inspirasie en het getuig van die diepgaande verbintenis met hulle span.

Alhoewel die A-span van Progress wedstryd nie gewen het nie, en met ‘n skrale 27-25 telling moes buig, het hulle inderdaad die hart van die ondersteuning weereens verower. Verskeie foute is deur beide spanne gemaak maar die intensiteit op die veld was so tasbaar dat die toeskouers die emosies van elke speler kon voel.
Die wedstryd die naweek het merkwaardige sportmanskap van beide Young Good Hope en Progress RFC getoon. Young Good Hopes, het die oorwinning behaal in beide hul A- en B-span wedstryde; B-span het met 17-15 gewen.
Emosies het hoog geloop na die nederlaag, maar die trotse gees van broerderskap het oorgeskyn. Met slegs twee wedstryde oor, kan ons lesers met alle sekerheid weet dat Progress RFC hulle beste voet vorentoe sal sit in die laaste fase van die seisoen.
