Featured Music

Covid kelder Swanepoel se Saloon show

Written by Mickey Mentz

Dit was veronderstel om ‘n hoogtepunt in ‘n andersins droewige jaar te wees, maar Jeandré Swanepoel en die Kitaar Bazaar moes op die laaste nippertjie hulle vertoning by die Karoo Saloon kanseleer.

Dit nadat twee lede van die groep positief vir die koronavirus getoets het.

Die vertoning sou op 19 Desember by die gewilde musiekbestemming buite Barrydale plaasgevind het.

“Dit was baie disappointing dat twee lede van ons band positief getoets het, hulle is okay en ons is nou in isolasie,” het Jeandré aan News62 bekend gemaak.

Hy en die res van die orkes wag tans vir die uitstlae van hul Covid toetse.

Jeandré  is meer bekend vir sy manewales as hoofsanger vir die groep De Wallen, maar het onlangs projekte soos Light ‘n Shade en Kitaar Bazaar aangepak.

Karel Bester, Jeandre Swanepoel en Jeanette Claassen as Light ‘n Shade. Foto: Herman van Wyk

Voor die grendelstaat aangekondig is, het hy en sy makkers kroeë regoor die land en soms ook Europa plat gespeel.

Dit was ‘n tyd van geld en glorie en terwyl hulle nou met heimwee aan daardie dae terugdink, besef Jeandré dat lockdown ‘n belangrike rol in sy ontwikeling as liedjieskrywer gespeel het.

Ek het op die vooraand van die vrystelling van sy debuut Afrikaanse album, Bloeityd, met hom gesels.

“Ek het drie kinders (albums) met De Wallen uitgebring en toe lockdown begin, het ek besef dat dit tyd is om aan my Afrikaanse songs te werk,” het hy vertel.

Van die snitte op die album het hy reeds in 2013 geskryf, maar dit was asof daar nooit genoeg tyd was om alles mooi aanmekaar te vleg nie.

“Ek was bang om die Afrikaanse ding te takel, want as jy opkyk na die mense wat om my speel, die werke wat hulle reeds uitgesit het teenoor dit wat ek gehad het…dit het net eenvoudig nie geklop nie.”

Terwyl van die songs, soos Stellenbosch se Weggooi Kind, reeds die rondtes in die plaaslike musiekmark begin doen het, en goed ontvang is, kan gehore wat werke van legendes soos Koos du Plessis geniet, solank begin nader staan.

Jeandré skryf vanuit daardie diep donker hoeke waar ons almal op een of ander stadium (veral gedurende 2020) was.

Toe lockdown begin het, het hy meteens besef hoe belangrik tyd werklik is en die woorde het begin vloei.

“Ek het mooi hard in die spieël gaan kyk en besef die enigste kak een hier, is ek. Ek sit met hierdie tunes wat ek net nooit gedeel het nie en dit is verkeerd.”

Hy het ook met ‘n eerlike oog na die gebeure in en om die land gaan kyk en sy ervaring word natuurlik deur sy kenmerklike Joe Coker rasperstem gekomplimenteer.

Want ons moor en verkrag en ons steel

Vernietig die grond waarop ons kleinkinders moet speel

Dis moeilik om bloed van jou hande te was

Die mens kort ‘n naam wat hom beter sal pas

Die antropomorfiese kankergewas

– Lirieke van Opus 17

Nes vir alle musikante, was die feit dat hy nie voor lewendige gehore kon optree nie ‘n lewensaanpassinng wat Jeandré nie wou maak nie.

In daardie tyd het hy vir homself die doelwit gestel om nog 13 000 shows te speel en as dinge uitwerk soos hy wil hê dit moet, beplan hy om elke jaar (vir die volgende dekade) ‘n Afrikaanse album uit te bring.

“Ek gaan nooit weer ‘n gig as vanselfsprekend aanvaar nie. Ek gaan nooit weer ‘n gehoor as vanselsprekend aanvaar nie – of daar nou drie, sewe, of sewentig mense is.”

Jeandré (ook bekend as Pikkie) het Bacchus Nel en Riku Lätti die skuld vir sy liefde vir Afrikaanse musiek gegee en vertel dat ouens soos Gian Groen, Hunter Kennedy, Valiant Swart, Piet Botha en Willem Welsyn ook ‘n groot invloed op sy musiekloopbaan gehad het.

Oom Piet (Botha) was altyd in sy hoek gewees, vertel die 27-jarige van Kuilsrivier.

Hy was gelukkig genoeg om by die legende self te leer kitaar speel en bieg dat “oom Piet vir baie van die event organisers gesê dat hulle ‘n kans op hierdie mannetjie wat so wild tekere gaan, moet vat.”

Hy besef ook dat hy ‘n verantwoordelikheid het om die ervaring en lewenslesse wat hy by van die grootste name in alternatiewe Afrikaanse musiek geleer het, aan die volgende generasie oor te dra.

“Iewers sit daar ‘n 14-jarige laaitie wat 20 jaar van nou af sinkers van albums gaan drop. Dit sal ‘n skande wees as ek nie dit wat ek van die legendes voor my gekry het aan ‘n jonger generasie oordra nie.”

Jeandré se eie persoonlike sinker van ‘n album drop eersdaags. 

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my hond se naam is Karoolus.

Leave a Comment