Barrydale se Half Pints rolbalspan het vandeesweek as oorwinnaars uit hul stryd teen die Unbeweaveables getree en sodoende die gesogte houtlepel trofee gewen.
Hierdie finaal tussen die twee spanne wat die swakste tydens die Barrydale Recreation Club se Summer Business Social League gevaar het, het vir groot opwinding gesorg en is uitstekend deur die gemeenskap ondersteun.
Daar is na afloop van die “finaal” ‘n gebruiklike braai gehou en spelers kon aan die legendariese pap wat Gert Mills voorberei het, smul.
Die ware jacob finaal vind vanaand plaas, en News62 het verneem dat Gert en Alan oudergewoonte vir ‘n bakgat braai sal sorg.
Volgens Half Pints kaptein Ryno Reyneke kan sy span se oorwinning ( die tweede een uit 123 wedstryde) aan hul voorbereiding by The Maker’s Brew toegeskryf word.
“Boobaas plaaslik gebroude bier lewer boobaas rolbalspelers,” meen die Half Pints.
Reyneke het op sy beurt sy lof ook aan die organiseerders uitgespreek.
“Hierdie toernooi is uitstekend vir die gemeenskap. Dit bring almal bymekaar en dit maak nie saak hoe goed of swak jy speel nie, dit is ‘n uitstekende geleentheid om jou mede Barrydalers beter te leer ken. Baie dankie aan die organiseerders wat hierdie moontlik gemaak het.”
Jacqueline Fortein (kaptein van die Unbeweavables) is dit eens dat die spel in goeie gees verloop het en dat haar span Barrydale Hand Weavers spelers beslis aan die volgende toernooi gaan deelneem.

Hierdie naweek (Saterdag) vind die finale van die spanne wat wel rolbal as sport bemeester het, plaas.
Volgens betroubare bronne het al die Dungrollers spelers die afgelope week nie hul lippe aan drank gesit nie en is hulle so baie lus om teen die Jagermeisters te speel, hulle kan hul lag nie meer hou nie.
Die span om dop te hou is egter OK1. Hulle beskik oor die regte balans grys hare en jong bloed om enige span te laat kreun.
Die Sweet 60s staan ook ‘n goeie kans om op die dag koning te kraai en ons kan bevestig dat van hul spelers onlangs by The Maker’s Brew ‘n paar biertjies gaan drink het.
Daar sal ‘n spitbraai tydens die finaal plaasvind. Die eerste wedstryde begin omstreeks 18:00 vanaand (1 Mei).




