Featured News

Kosie was ‘n rolbal man soos min

Written by Mickey Mentz

Cola was lief vir rolbal en die rolbalgemeenskap was lief vir hom

Kosie Joubert, oftewel Cola, was ‘n staatmaker wat altyd sy bes gedoen het om ‘n verskil in die lewens van ander te maak.

Kosie Joubert soos geskilder deur Ant Chidrawi

Hierdie geliefde Barryaler is op 19 Junie op die ouderdom van 72 oorlede en sy afsterwe word as ‘n groot verlies vir die dorp beskou.

Cola was een van die eerste spelers wat in 2016, toe Barrydale Rolbalklub weer in die lewe geroep is, aansoek gedoen het om as lid aan te sluit.

Kenmerklik het hy altyd met ‘n breë glimlag by die baan opgedaag en hy het ook ‘n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die talle junior provinsiale spelers wat die klub deur die jare opgelewer het.

“Die afsterwe van Kosie is ‘n groot terugslag vir die klub, maar ook die gemeenskap,” het Barrydale Rolbalklub voorsitter Cassie Husselman verduidelik.

“Cola se vriendelikheid en liefde vir die sport gaan deur ons gemis word en ons dink aan sy gesin in hierdie moeilike tyd.”

Kosie se vrou is reeds oorlede en hy laat ses kinders agter.

Rolbal was sy passie

As ‘n kranige speler wat ook ‘n passie vir visvang gehad het, was Kosie natuurlik ook ‘n inspirasie vir die jeug. Die inwoners van Tallies Straat het geweet as hulle hom met sy blou sak sien, was daar weer ‘n groot rolbaltoernooi op die horison.

Die sport het aan hom die geleentheid gebied om so vêr as Oos Londen te toer en hy was natuurlik deel van die Barrydale Rolbalklubspan wat in 2018 die liga in Montagu gewen het.

In 2019 het hy aan die Outeniqua Classic in George asook die Knysna Oyster toernooie deelgeneem en natuurlik het hy talle kere bane in Ladismith, Stilbaai, Witsand, Heidelberg, Bonnievale en Robertson met sy teenwoordigheid geseën.

Die Interklubliga oorwinning in 2019 in Barrydale was natuurlik een van die hoogtepunte van sy loopbaan en so ook sy deelname as lid van die Boland Viere span.

Sy deelname in die Klubsesse toernooie was ook legendaries omdat sy spanmaats, van ander klubs, altyd op hom staat gemaak het om die telbord aan die kook te hou.

Groenvingers en liedfe vir die natuur

Wanneer hy nie op die rolbalbaan was nie, het hy sy groenvingers ingespan en van die beste groentetuine in die dorp opgerig.

Kosie se ander passie was tuinmaak.

Sy plante kennis was uitstekend, maar sy kennis van die plaaslike klimaat het van hom ‘n boffin gemaak.

Volgens Muir Mackenzie kon Cola enige plant groei en hy het ‘n groot rol gespeel in die indrukwekkende groentetuin wat hulle destyds agter The Hub ontwikkel het.

Daar het Cola en Muir letterlik tonne tamaties, pampoene, blaarslaai, brandrissies en talle ander groentesoorte ge-oes wat dan later aan die gemeenskap gegee is of in die kombuis gebruik is.

Kosie Joubert saam met ‘n groep wat in 2021 die beroemde Spensplaas buite De Rust besoek het. Foto: News62

‘n Gedenkdiens sal Woensdag by Barrydale Rolbalklub aangebied word, sy begrafnis datum is nog nie bekend nie.

Barrydale Hand Weavers

About the author

Mickey Mentz

From my Barrydale base, my goal is to tell the stories of people and places on the picturesque R62. Ek het oor die jare 'n cappuccino verslawing ontwikkel en my honde se name is Bella en Obi.

Leave a Comment