Elke jaar as Marius Slabber verjaar word daar ‘n mini-musiekfees by die Karoo Saloon aangebied.
Hierdie jaar was dit weer die gebruik en oudergewoonte het hy sy aangenome seuns Rudi, Arthur en AJ genooi om ons met hul sweet-sweet tunes te bekoor.
Die Akkedis Band het nou maar net die teorie bevestig dat sekere bands soos ‘n goeie rooiwyn met tyd verbeter.
Marius se rol in die lewe van musiekante is onbeskryflik groot
Jonhathan Martin
“Elke keer as Akkedis hier optree bring hulle iets nuuts, iets besonders, iets wat net bevestig hoe uitstekend hulle regtig is,”het Karoo Saloon bestuurder Wilko Spangenberg verduidelik.
Ons vat Wilko se woord hiervoor, hy deel beslis dieselfde passie vir musiek wat gesorg het dat van ons land se top musiekante aan hierdie huldeblyk video vir Marius deelgeneem het.

Maar eers ‘n Akkedis verjaardagboodskap met trots geborg deur Gin Shots – die keuse van die rofste bliksems.
“Aan ons groot vriend Marius: Geluk met jou verjaarsdag. Jy is ‘n ware ambassadeur vir musiek in die Klein Karoo. Jou liefde en toewyding aan musiek, skilderkuns en die natuur is legendaries. Jy is ‘n vriendelike gees en ‘n mensch.”
Van die kunstenaars wat by die Saloon opgetree het, het hierdie huldeblyk aangestuur. Marius het ampertjies gehuil toe hy dit gekyk het. Ampertjies beslis.
VIDEO: Verjaardag wense stroom in vir Saloon legende
Elke week is ‘n groot week by die Saloon
Diegene wat in Barrydale woon wonder soms of Marius nie elke week van die jaar verjaar nie aangesien daar min-of-meer elke week van die jaar ‘n vertoning is wat mens kan bywoon.
Die News62 span het ondersoek instel en ons kan bevestig dat daar tussen 25 Oktober 2020 en vandag (2 November) 64 kunstenaars (indien nie meer nie) danksy Marius en Janet die geleentheid geniet het om by die Karoo Saloon op te tree.
Talle van hierdie musiekante, waarvan baie weens lockdown spookmaer hier opgedaag het, het op meer as een geleentheid Barrydale besoek.

Marius se passie vir musiek is natuurlik ook die hoof rede waarom die Karoo Saloon vanjaar sy 10de bestaansjaar vier en as net dit wat oor die afgelope jaar hier gebeur het as ‘n aanduiding kan dien vir wat die toekoms inhou, lê daar beslis opwindende tye voor.
“Marius se rol in die lewe van musiekante is onbeskryflik groot,” het Johnathan Martin, bekende kitaar speler van Piet Botha se Jack Hammer band, getuig.
Martin is vir die inhuldiging van die Piet Botha verhoog uit Pretoria ingevlieg – dit was sy eerste groot optrede in meer as agt maande.
“Die musiek bedryf het amper in duie gestort en Marius en Janet se Karoo Saloon is een van min helder liggies wat steeds skyn. Baie dankie Marius, jy het ‘n groot verskil in my lewe gemaak en jou raad en advies is goud werd. Lekker verjaar bra!
Buiten die tientalle optredes oor naweke, wat vier groot feeste insluit, het die plaaslike ekonomie ook uit die aksie wat by die Saloon afspeel, gebaat.

Plaaslike ekonomie baat by Saloon feeste
Gastehuise in Barrydale en Montagu het beslis ‘n handige kontantvloei inspuiting weens die instroom van gaste ontvang – dit is nou wanneer mense nie by die Saloon self oornag het nie.
Daar is mos meer as genoeg kampplek vir dapper soldate – en die behuising is eersteklas.
Of daar nou vyf of 85 mense vir hierdie vertonings opgedaag , maak Marius dit sy missie om te sorg dat daar goed na die bands gekyk word. Geen soldaat word agter gelaat nie.
En wanneer hy nie saam met sy regterhand (Wilko) besig was om die volgende fees te beplan nie – hulle het oor die afgelope jaar ‘n Heavy Metal Fees, ‘n Blues Fees, ‘n Karoo Woodstock en hul bekende Under Karoovian Skies op die planke gesit en natuurlik ook die Piet Botha stage ingehuldig – het hy ‘n skildery of twee geverf.
Marius is ‘n baie begaafde skilder – ons doen eersdaags ‘n artikel oor sy regte werk.

Al die kunswerke in die Karoo Saloon van bekendes soos Piet Botha, Jimi Hendrix en Pink Floyd is Marius se handewerk en dit is verbasend om te dink dat sy ateljee maar ‘n kliphooi weg van die reeks kitare wat hy versamel is.
Baie van hierdie kitare is by sukkelende kunstenaars gekoop – geen van die kitare is te koop nie.
Marius is nou maar net eenvoudig ‘n man van staal en al heers daar ‘n droogte van pandemiese preporsies, weier hy volstrek om tou op te gooi.
Hy sal altyd ‘n punt daarvan maak om die troepe saam te trek vir ‘n opskop en soos dit ‘n goeie leier betaam, sorg hy altyd dat geregtigheid seevier.
Tydens sy verjaardag naweek het ou soldate Southbound en natuurlik die Karoo Saloon se eie ‘Ozzy en die Saloon Dogs’ tree gesorg dat die tafel mooi vir die Akkedis Band gedek was. Daarna kon die naweek op ‘n warm noot deur the Betsies afgesluit word.
Lekker verjaar Marius!
