Swellendam Munisipaliteit het op 21 Oktober ‘n reuse stap in die oplewing van Smitsville se ekonomie geneem deur ‘n nuwe besigheidspark aan die gemeenskap bekend te stel.
Die houerhuis eenhede, oftewel containers, wat op die oop stuk grond tussen Wilger en Dahliastraat in Barrydale se informele nedersetting opgerig gaan word sal tussen 18 en 24 klein sakeondernemings huisves.
Oor die laaste jaar het Swellendam Munisipaliteit R30-miljoen aan opgraderings in Barrydale en Smitsville spandeer.
“Dit is ‘n riem onder die hart dat ons op hierdie wyse die ontwikkeling van ons plaaslike ekonomie kan ondersteun,” het Swellendam burgemeester Francois du Rand tydens die onthuldiging gesê.
“Hierdie area is baie toegangklik en ons hoop natuurlik dat dit ook ‘n toerisme aanloklikheid vir die dorp sal wees.”
Du Rand sê dat daar geen tekort aan vaardighede in die gemeenskap is nie en dat verskeie entrepreneurs – hy het spesifiek na die jeug verwys – wat nie in die tradisionele sektore dit kan bekostig om persele te huur nie, by hierdie ontwikkeling sal baat.
Onder leiding van munisipale bestuurder, Anton Groenewald, het Swellendam die voorbeeld van Kaap Agulhas Munisipaliteit gevolg en by die Die Klein Besigheid Infrastruktuur Ontwikkelings Fonds vir hierdie projek aansoek gedoen.

Plaaslik word daar meer as R1-miljoen bestee terwyl die provinsiale bydrae sowat R2.5miljoen beloop.
Indien hierdie projek in Smitsville ‘n sukses is, sal ‘n soortgelyke besigheidsgeleenthede in Railton gespek word.
“Hierdie besigheidspark sal van dames wat koek bak, vroue wat matriekafskeid uitrustings maak, skoenmakers en natuurlik restaurant eienaars die geleentheid bied om hul besighede op te been te kry,” verduidelik Groenewald.

Groenewald sê dat ongeveer 160 mense in Swellendam en Railton op die aanvanklike uitnodiging reageer het en aansoekvorms ingevul het.
“Oor die laaste jaar het Swellendam Munisipaliteit R30-miljoen aan opgraderings in Barrydale en Smitsville spandeer. R26-miljoen daarvan was vir van dit was die behuisingsprojek, maar soos die inwoners kan sien het ons ook paaie aangebou en die water toevoer is opgradeer.”
Opsoek na ‘n eiendom in Barrydale? Klik HIER
‘n Verdere R6-miljoen sal oor die volgende jaar aan paaie in die dorp spandeer word.
Die ontwikkeling van Smitsville en Barrydale is vir Groenewald en sy span van kardinale belang aangesien dit so ‘n belangrike punt op Roete 62 is.
GEI Verwelkom Smitsville ontwikkeling
Intussen is hierdie ontwikkeling met groot opgewondenheid deur Cailin Human van die Global Engagement Institute (GEI) verwelkom.
Human en verskeie rolspelers in die gemeenskap soos Net vir Pret het oor die afgelope jaar reeds baanbreker werk gedoen om ‘n Khoi Kafe tot stand te bring.
Die projek dra die bevordering vaardigheidontwikkeling onder die jeug op die hart.
“‘n Studie wat ons in 2019-2020 in Smitsville gedoen het toon dat die jeug ‘n voertuig kort waarmee sosiale ontwikkeling en entrepreneurskap bevorder kan word.
“‘n Perseel vanwaar hierdie opleiding en dan die uitvoering daarvan kan geskied is ‘n groot stap in die regte rigting vir Smitsville.”
Human is opgewonde om eersdaags saam met al die betrokke rolspelers hierdie projek se potensiaal te bespreek.
*Hierdie artikel is met trots deur Ruth Goodman van diue Dormehl Porperty Group geborg






