Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het op 24 Maart sy ondersteuners in Barrydale by die Fortshaven Saal toegespreek waar hy die erns van die opkomende provinsiale en nasionale verkiesing beklemtoon het.

Verskeie onafhanklike ontleders meen dat die uitslag van die verkiesing wat op 29 Mei plaasvind die politieke landskap in die land drasties kan verander.
Ten spyte van peilings wat toon dat die DA se steun moontlik in die provinsie kan daal, was Winde vuur en vlam dat sy party steeds die enigste volhoubare oplossing tot die land en provinsie se probleme is.
“Peilings is belangrik en ons moet dit in ag neem en dit is daarom so belangrik dat elke persoon gaan stem. Dit is net so belangrik dat kiesers nie hulle stemme op klein partye wat nie ‘n verskil kan maak nie, mors nie.”

“Ons moet weer 51% of meer van die stemme in die provinsie kry om te sorg dat dit waaraan ons reeds gebou het, kan aanhou.”
Barrydale die ongeslypte diamant
Winde het Franschhoek as ‘n voorbeeld gebruik waar samewerking in ‘n gemeenskap tot almal se voordeel strek en hy meen dat daar geen rede is waarom Barrydale nie ook so ‘n bekende internasionale bestemming soos Franschhoek kan word nie.
“Ek dink in ‘n dorp soos Barrydale moet die gemeenskap begin saamstaan as besigheidkamers, as toerisme organisasies en probeer besef dat terwyl die regering ‘n rol moet speel, moet die besighede en mense ook ‘n rol speel,” het Winde verduidelik.

“Franschhoek is deel van Stellenbosch Munisipaliteit, maar destyds het Franschhoek gesê ‘ons is Franschhoek en ons maak ons eie besluite’. Net so kan en moet Barrydale dieselfde doen en sy eie visie skep.”
Barrydale se toerismekantoor word tans deur Graham Abbott op die been gebring en die dorp het ook nou sy eie bestuurder, Wilma Karsten, wie beide belangrike rolle in die ontginning van toerisme sal moet speel.
Groot lof vir Swellendam
Die premier het tydens sy toespraak sy ondersteuners gerus gestel dat die Demokratiese Alliansie (DA) alles in hul vermoë sal doen om te sorg dat die Wes-Kaap blou bly.
Hy het met groot lof oor die toekennings wat Swellendam Plaaslike Munisipaliteit, onder leiding van burgemeester Francois du Rand behaal het, gepraat.
Volgens Winde spreek die sewe agtereenvolgende skoon audits, asook die feit dat Swellendam onlangs deur Ratings Africa en die Small Business Report onder die top 10 munisipaliteite in die land genoem is (5de en 8ste onderskeidelik), boekdele van die werk wat die DA in die provinsie verrig het.

Die DA se provinsiale leier, Tertius Simmers, het die verskil wat die DA oor die afgelope vier jaar gemaak het, uitgelig.
Volgens Simmers wat ook as die Provinsale Minister van Infrastuktuur dien, is daar onder meer, meer as ‘n half-biljoen rand op die opgradering van paaie spandeer terwyl die Wes-Kaap ook baanbreker werk ten opsigte van die Eskom krisis verrig.
“Binne die volgende paar weke oorhandig ons die sleutels van nuwe huise aan inwoners wat by ons Railton (Swellendam) Behuisingsprojek sal baat. Dit is ‘n projek wat in minder as twee jaar voltooi sal word,” aldus Simmers.
Die Barrydale vraagstuk
Winde en Kie se besoek aan Barrydale kom presies ‘n jaar nadat die party tydens ‘n tussenverkiesing verneder is.
Die ANC en die PA het die DA by die stembus geklop en die uitslag het beteken dat die DA sy meerderheid op die Swellendam Munisipaliteit se Raad kwyt is.
Tydens die byeenkoms in die Fortshaven Saal het Du Rand weer die opposisie van vuilspel in die aanloop tot die tussenverkiesing beskuldig.

Tien-talle van die party se ondersteuners het egter na afloop van die nederlaag bevestig dat die kandidaat wat deur die DA voorgestel is, Beate Joubert, nooit hul goedkeuring sou wegdra nie.
Winde het erken dat sy party hier in Barrydale drooggemaak het en dat die soektog na ‘n nuwe plaaslike leier uiters belangrik is.
“Ons maak foute en dit is nie uniek tot Barrydale nie, ons het dit ook in Knysna gesien wat gebeur wanneer leiers onder mekaar begin stry het.
“Hopelik is hulle (die DA in Barrydale) nou besig met ‘n plan om vas te stel wie die volgende Raadslid gaan wees. Daar is net oor die twee jaar oor voor die plaaslike verkiesing.”
Fotos: Met vergunning van Graham Abbott