Inwoners van Rondomskrik se vinnige optrede op 8 Desember het verhoed dat groot dele van die omliggende gebiede deur ’n veldbrand verwoes word.

Volgens ’n getuie, Brandon Festus, het hy en sy vriende ‘n brand agter ‘n huis omstreeks 13:30 opgemerk. Hy beskryf hoe ‘n klein vuur binne sekondes versprei het, maar dat die vuur danksy spanwerk in die gemeenskap vinnig geblus is.
“Ons het gesien dat die vlamme uit ’n hok agter die huis gekom het. Binne sekondes was daar vlamme orals. Ons het toe gehardloop, pype ingesit en die bure het ook begin help.”






Festus het verduidelik hoe lede van Barrydale SAPS, spesifiek Kyle Jonas en van die nuwe lede by die stasie, spoedig gereageer het en gehelp het.
Die bosse agter die huis het ook aan die brand geslaan, maar gelukkig kon die manne dit met die hulp van Barrydale Brandweer onder beheer bring.
“Die gemeenskap se reaksie was baie vinnig. Dit was puik werk deur die gemeenskap, mnr. Wian Braaf en die brandweer, en ons kon gelukkig keer dat daar groot skade of lewensverlies was.”
Volgens ’n woordvoerder van Barrydale Vuurslim word inwoners aangemoedig om by die Vuurslim-WhatsApp-groep aan te sluit, aangesien daar toerusting en vaardighede beskikbaar is wat tot almal se voordeel kan strek.
Vir meer inligting of om by die groep betrokke te raak, stuur ‘n boodskap aan 072 289 9660
Die noodnommer om te skakel tydens plaaslike brande in Barrydale is 028 425 1690
Fotos: Verskaf




